Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 9:1-16 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die eerste verbond het ook reëls gehad wat sê hoe die mense vir God moet dien, en dit het ook ’n gewyde tent hier op aarde gehad waar die mense vir God kon dien.

2. Die Israeliete het die tempel-tent gebou. In die eerste kamer was die lampstaander en die tafel met die offer-brood. Hulle het die eerste kamer genoem die “gewyde kamer.”

3. Agter die tweede gordyn was die tweede kamer wat hulle die “hoog-gewyde plek” genoem het.

4. In hierdie kamer was die goue wierook-altaar en die verbondskis wat hulle heeltemal oorgetrek het met goud. In die kis was die goue kruik waarin daar manna was, en die kierie van Aäron waaraan daar takkies en blare gegroei het, en die twee plat klippe van die verbond waarop die tien gebooie was.

5. Op die kis was die gerubs wat wys dat God daar is. Die skaduwee van die gerubs se vlerke was oor die deksel van die kis, die plek waar God die mense se sondes versoen het. Daar is nie nou tyd om te praat oor elkeen van al hierdie dinge in die tempel-tent nie.

6. Die Israeliete het al hierdie dinge so gereedgemaak. Die priesters het altyd in die eerste tent ingegaan om daar die werk van priesters te doen.

7. Maar in die tweede tent het net die hoëpriester ingegaan, een maal elke jaar. Hy het altyd bloed saamgeneem wanneer hy daar ingegaan het, die bloed wat hy ge-offer het vir sy eie sondes en vir die sondes wat die volk gedoen het toe hulle nie geweet het dat dit sonde is nie.

8. So wys die Heilige Gees dat die pad na die regte hoog-gewyde plek in die hemel nie oop is terwyl die eerste kamer nog daar is nie.

9. Hierdie eerste kamer is ’n voorbeeld van die tyd wanneer mense presente en offers bring, maar die presente en offers kan nie die mense wat vir God dien, help om heeltemal te weet wat is reg en wat is verkeerd nie.

10. Daardie offers was net oor reëls wat sê wat ’n mens moet doen en wat jy nie moet doen nie, dinge wat ander mense kan sien. Dit was reëls oor dinge wat mense geëet of gedrink het en oor hoe hulle mense moes was om hulle rein te maak. Maar hierdie reëls bly net daar totdat die tyd kom wanneer God alles reg en nuut sal maak.

11. Maar Christus het gekom om Hoëpriester te wees en Hy laat goeie dinge gebeur. Hy het deur die groter en beter tempel-tent gegaan. Dit is nie mense wat hierdie tempel-tent gebou het nie, dit is God, en hierdie tempel-tent is ook nie in hierdie wêreld nie.

12. Christus het net een maal en vir altyd in die hoog-gewyde kamer ingegaan en Hy sal nooit weer daar moet ingaan nie. Hy het daar ingegaan, maar nie soos die hoëpriester met die bloed van bokke en kalwers nie. Hy het gesterf en Hy het sy eie bloed daar ingeneem, en so het Hy ons vir altyd gered.

13. Die priesters het op onrein mense die bloed gespat van bokke en bulle en die as van ’n vers-kalf wat heeltemal verbrand het en wat hulle in water gegooi het. Wanneer die priesters dit gedoen het, dan het dit die onrein mense gereinig en dan was hulle rein. Dan kon hulle weer in die tempel kom en vir God dien.

14. Christus het ’n offer vir God geword, die Heilige Gees wat altyd lewe, het Hom gehelp om ’n offer te wees wat heeltemal gesond is. Daarom sal die bloed van Christus ons reinig, baie beter as die offers van bokke en bulle, en dan sal ons ophou om dinge te doen wat ons geestelik dood laat word, en ons sal heeltemal weet wat is reg en wat is verkeerd. Dan sal ons vir God kan dien, God wat lewe.

15. Christus het gesterf om mense vry te maak, God het hulle nie gestraf oor die dinge wat hulle verkeerd gedoen het in die tyd van die ou verbond nie. Daarom is Hy die Middelaar van die nuwe verbond. God het mense gekies, en Christus het die nuwe verbond gebring sodat daardie mense vir altyd alles kan kry wat Hy vir hulle belowe het.

16. Wanneer ’n persoon ’n testament gemaak het, dan moet die mense wat sy goed erf, eers wag tot daardie persoon dood is,

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 9