Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 9:23-37 Bybel vir Almal (ABA)

23. Ná ’n lang tyd het die Jode planne gemaak om vir Saulus dood te maak,

24. maar hy het gehoor van hulle planne. Hulle het elke dag en elke nag die stad se poorte dopgehou om vir Saulus te vang en dood te maak.

25. Maar mense wat ook gelowiges was, soos Saulus, het in die nag vir Saulus geneem en hulle het hom in ’n groot mandjie laat afsak deur ’n venster in die stad se muur.

26. Toe Saulus in Jerusalem kom, het hy aangehou om te probeer vriende maak met die gelowiges. Maar hulle het nie geglo dat hy ’n gelowige is nie, en daarom was hulle almal bang vir Saulus.

27. Maar Barnabas het vir Saulus gehelp. Hy het vir Saulus na die apostels toe geneem en hy het vir hulle vertel dat Saulus op die pad na Damaskus die Here gesien het en dat die Here toe met Saulus gepraat het. Barnabas het ook vir hulle vertel dat Saulus nie bang was om vir die mense in Damaskus van Jesus te vertel nie.

28. En Saulus het oral in Jerusalem saam met hulle gegaan en hy was nie bang om vir die mense te vertel van die Here nie.

29. Hy het ook gepraat met die Jode wat Grieks gepraat het, en hy het met hulle gestry, maar hulle het probeer om hom dood te maak.

30. Toe die gelowiges dit uitvind, het hulle vir Saulus na die hawestad Sesarea geneem en van Sesarea het hulle hom na die stad Tarsus gestuur.

31. Die kerk in die provinsies Judea, Galilea en Samaria het ’n tyd lank in vrede gelewe. God het hulle gehelp om aan te hou glo, hulle het die Here gedien en hulle was gehoorsaam aan Hom. Die Heilige Gees het die kerk sterk gemaak en meer en meer mense het in die Here begin glo.

32. Petrus het van die een plek na die ander plek gegaan. Hy het ook gekom by mense wat in die stad Lidda woon en wat in die Here glo.

33. Petrus sien toe daar ’n man, sy naam was Eneas. Hy het ag jaar lank op sy slaapmat gelê omdat hy lam was.

34. Petrus sê toe vir hom: “Eneas, Jesus Christus maak jou gesond. Jy moet opstaan en jy moet jou slaapmat opvou!”Eneas het toe dadelik opgestaan.

35. Al die mense van Lidda en die Saron-vlakte het Eneas gesien, en hulle het verander en begin lewe soos die Here wil hê.

36. In die stad Joppe was daar ’n gelowige vrou. In die Aramese taal was haar naam Tabita. In die Griekse taal was haar naam Dorkas. Hierdie vrou het baie goeie dinge gedoen en sy het altyd arm mense gehelp.

37. Sy het in daardie tyd siek geword en gesterf. Nadat mense haar liggaam gewas het, het hulle dit in die bo-kamer neergesit.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 9