Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 27:2-17 Bybel vir Almal (ABA)

2. Ons het op ’n skip geklim wat na die stad Adramittium sou seil, want ons wou gaan na plekke in die provinsie Asië. Die skip het begin seil. Aristargus was ook saam met ons. Hy was ’n man van die stad Tessalonika in die provinsie Masedonië.

3. Die volgende dag het die skip by die stad Sidon aangekom. Julius was vriendelik met Paulus. Julius het gesê Paulus mag na sy vriende in Sidon gaan sodat hulle vir hom kan sorg.

4. Die volgende dag het ons weggeseil van Sidon. Ons het toe by die eiland Siprus verbygeseil. Die wind het sterk teen ons gewaai en daarom het ons langs Siprus verbygeseil, langs die kant waar die wind nie so sterk was nie.

5. Ons het met die skip oor die see langs die lande Silisië en Pamfilië geseil. Ons het geseil tot by die stad Mira in die land Lisië.

6. In Mira het die offisier ’n skip gekry wat van die stad Aleksandrië gekom het. Die skip sou na Italië seil. Die offisier het toe vir ons gesê ons moet op daardie skip klim.

7. Ons het lank geseil, en nadat ons skip baie gesukkel het, het ons naby die stad Knidus gekom. Maar die wind het sterk teen ons gewaai, en daarom het ons langs die eiland Kreta verbygeseil, langs die kant waar die wind nie so sterk was nie. Ons was oorkant die stad Salmone.

8. Ons het verby Salmone geseil, maar ons het baie gesukkel. Toe het ons by ’n plek gekom, die plek se naam was Mooi Hawens. Dit was naby die stad Lasea.

9. Ons het lank geseil. Dit was ook laat in die jaar, die winter was naby, en dit was toe gevaarlik om met ’n skip te seil. Daarom het Paulus vir die offisier en sy manne gesê:

10. “Vriende, ons moenie nou verder seil nie. Dit is baie gevaarlik en ons sal baie dinge verloor. Ons sal die goed op die skip verloor, en ook die skip én ons lewens.”

11. Maar die offisier het geluister na wat die kaptein van die skip en die eienaar van die skip vir hom gesê het, hy wou nie na Paulus luister nie.

12. ’n Mens kon nie die hele winter by Mooi Hawens bly nie. Daarom het die meeste mense op die skip gesê ons moet verder seil en ons moet probeer om tot by Feniks te kom. Feniks was ’n hawe van die eiland Kreta. Dit was ’n veilige plek om te bly terwyl dit winter is, want die suidweste-kant en die noordweste-kant van die hawe was oop.

13. Die suidewind het saggies gewaai. Toe dink hulle dat hulle plan kan slaag, die plan om tot by die hawestad Feniks te seil. Daarom het hulle die skip se anker opgetrek en hulle het begin seil. Hulle het naby die eiland Kreta verbygeseil.

14. Maar hulle het nie lank geseil nie, toe begin ’n baie sterk wind waai, die wind het van Kreta gekom. Dit was ’n noordooste-wind, die wind se naam was Eurakilon.

15. Die wind het die skip saamgesleep. Ons kon nie die skip draai sodat dit teen die wind seil nie. Daarom het ons die skip gelos sodat dit gedryf het, saam met die wind.

16. Ons het die skip verby ’n klein eiland gestuur, die eiland se naam was Kauda. Die wind was daar nie baie sterk nie. Toe het ons baie gesukkel om te keer sodat die klein bootjie nie wegdryf van die skip nie.

17. Die matrose het die klein bootjie opgetrek en hulle het dit bo-op die skip vasgemaak. Toe het hulle toue om die skip gebind en so het hulle probeer om die skip sterker te maak. Hulle was bang dat die wind die skip sal stoot tot by die sandbanke van Sirtis, dan sou die skip stukkend breek. Daarom het hulle ’n seil aan ’n tou vasgemaak en hulle het die seil in die see gegooi om die skip stadiger te laat dryf. So het ons verder gedryf.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 27