Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 1:1-2-12 Bybel vir Almal (ABA)

1-2. Ek, Paulus, en al die gelowiges hier saam met my, skryf hierdie brief vir julle wat woon in die gemeentes in Galasië. Ek is ’n apostel, maar dit is nie ’n mens of mense wat my gekies het nie. Jesus Christus en God die Vader het my gekies, God wat vir Jesus weer laat lewe het nadat Hy gesterf het.

3. Ek bid dat God ons Vader en die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle vrede sal gee.

4. Christus het gedoen wat God ons Vader wou hê, Hy het gesterf om ons sondes weg te neem. So het Hy ons gered van hierdie slegte wêreld waarin ons lewe.

5. Daarom moet ons vir God prys, altyd en altyd. Amen.

6. Ek is verbaas dat julle in Galasië so gou die genade van God vergeet het. Hy was baie goed vir julle, Hy het vir Christus gestuur. God het gesê julle behoort aan Hom. Maar nou glo julle ’n ander boodskap.

7. Julle moet besef dat daar nie ’n ander goeie boodskap is nie. Die mense daar by julle wat vir julle ’n ander boodskap leer, maak julle deurmekaar en hulle maak die goeie boodskap van Christus vals.

8. Niemand mag vir julle iets anders preek nie, hy mag net die goeie boodskap preek wat ek gepreek het. Ek mag nie ’n ander boodskap preek nie, en ’n engel uit die hemel mag ook nie. As iemand dit doen, dan sal God hom straf!

9. Ek sê weer vir julle: Julle het die goeie boodskap by my gehoor, en God sal elkeen straf wat ’n ander boodskap preek!

10. Daar is mense wat sê ek gebruik mooi woorde sodat mense of God moet dink ek is goed. Hulle sê ek probeer dinge sê waarvan mense hou. Dit is nie waar nie. As ek dit doen, dan is ek nie ’n dienaar van Christus nie.

11. Vriende, dit is vir my baie belangrik dat julle dít moet besef: Die goeie boodskap wat ek preek, kom nie van mense nie.

12. Ek het die boodskap nie by mense gekry nie, ek het dit ook nie by iemand geleer nie. Jesus Christus het dit self vir my gegee toe Hy aan my verskyn het.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 1