hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Tessalonisense 2 Bybel vir Almal (ABA)

Die slegte leier

1. Vriende, wanneer ons Here Jesus Christus kom, dan sal Hy ons bymekaarmaak om by Hom te wees. Maar ons wil julle waarsku:

2. Julle moenie dat mense julle hieroor deurmekaar maak of bekommerd maak nie. Want daar is mense wat sê dat die dag van die Here al klaar gekom het. Hierdie mense sê dat die dinge wat hulle dink, van die Here self kom, of hulle sê iemand het dit vir hulle geleer, of hulle sê hulle het ’n brief van ons gekry wat so leer.

3. Maar julle moenie dat iemand vir julle verkeerd leer nie, want daar moet eers ’n paar ander dinge gebeur voordat die dag van die Here kom. Daar sal baie mense wees wat nie meer na God se wette luister nie. Hulle leier sal iemand wees wat glad nie na God se wette wil luister nie. Daarom sal God hom eendag straf.

4. Hierdie leier sal teen alles wees wat God doen. Hy sal sê hy is belangriker as God of die gode, belangriker as enige iets wat mense aanbid. Hy sal ook in die tempel van God gaan sit en maak of hy God is.

5. Onthou julle dat ek julle teen hierdie dinge gewaarsku het toe ek nog by julle was?

6. Daar is nou iets wat hierdie slegte leier keer, hy kan nie nou doen wat hy wil doen nie. Julle weet wat dit is wat hom keer. Hy sal net kan doen wat hy wil doen wanneer God besluit hy mag dit doen.

7. Niemand weet dit nie, maar hierdie slegte leier laat mense nou al klaar besluit om nie na God se wette te luister nie. Maar daar is een wat hom keer, en wanneer daardie een nie meer daar is nie, dan sal almal dit weet.

8. En dan sal almal kan sien wie die slegte leier is, die een wat glad nie na God se wette wil luister nie. En wanneer die Here Jesus kom, dan sal Hy hierdie slegte leier doodmaak, so maklik soos ’n mens iets met jou asem wegblaas. Ja, die slegte leier sal verdwyn wanneer hy sien dat die Here Jesus kom en dat Hy Koning is.

9. Wanneer die slegte leier begin werk, dan sal die Satan vir hom sê wat om te doen. Die slegte leier sal die krag hê om wonderwerke en ander wonderlike dinge te doen wat mense sal bedrieg.

10. Die slegte leier sal die mense wat verlore gaan, bedrieg met alles wat hy verkeerd doen. Die mense sal hom volg, want hulle het nie hulle harte oopgemaak nie en hulle het nie lief geword vir die ware goeie boodskap oor die Here Jesus nie. As hulle dit gedoen het, dan sou God hulle gered het.

11. God het hierdie mense verkeerd laat dink en daarom glo hulle die slegte leier se leuens.

12. En so sal God almal straf wat nie die ware goeie boodskap oor die Here Jesus geglo het nie. Dit is al die mense wat daarvan gehou het om verkeerde dinge te doen.

Paulus sê dankie vir God

13. Maar vriende, die Here is lief vir julle. Ons wil altyd vir God dankie sê dat Hy julle gekies en gered het. Hy het julle eerste gered, en Hy sal nog baie ander mense red. God het julle gered omdat sy Gees julle harte oopgemaak het vir Hom, en omdat julle geglo het dat die boodskap oor Jesus Christus waar is.

14. Ons het vir julle die goeie boodskap oor Jesus Christus gebring, en so het God julle gekies om ook te behoort aan ons Koning en Here, Jesus Christus.

15. Daarom, vriende, julle moenie twyfel nie. Julle moet aanhou om alles te glo wat ons vir julle geleer het toe ons by julle was, en ook alles wat ons vir julle geskryf het.

16. God ons Vader is nog altyd lief vir ons. Omdat Hy goed is vir ons, sal Hy ons altyd help om nie moedeloos te word nie. Hy help ons ook om aan te hou hoop dat daar goeie dinge sal gebeur. Ons bid dat ons Here Jesus Christus self en God ons Vader

17. julle sal bemoedig en vir julle die krag sal gee om aan te hou met al die goeie dinge wat julle doen en sê.