hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Tessalonisense 1 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ek, Paulus, saam met Silvanus en Timoteus, skryf hierdie brief vir julle, julle wat die gemeente in Tessalonika is en wat behoort aan God ons Vader en aan die Here Jesus Christus.

2. Ons groet julle. Ons bid dat God ons Vader en die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle en dat Hy vrede vir julle sal gee.

God sal ons oordeel wanneer Christus weer kom

3. Vriende, ons wil altyd vir God dankie sê oor julle, en ons moet dit doen, want julle glo meer en meer en julle almal is meer en meer lief vir mekaar.

4. Daarom sê ons mooi dinge oor julle in die ander gemeentes van God. Ons vertel vir hulle dat julle aanhou om lief te wees vir God en dat julle aanhou om vas te glo, ook wanneer julle baie swaar kry omdat mense baie slegte dinge aan julle doen en julle verdruk.

5. Julle kry swaar, en dit wys dat God reg oordeel oor mense. Julle kry nou swaar omdat julle behoort aan God wat Koning is, maar so maak God julle gereed vir die tyd wanneer Hy Koning sal wees oor almal.

6. God doen reg, want Hy sal die mense wat vir julle verdruk, ook laat swaarkry.

7. Julle kry nou swaar, maar God sal julle help sodat julle en ook ons nie meer sal swaarkry nie. Hy sal dit doen wanneer Hy uit die hemel die Here Jesus vir al die mense sal wys sodat hulle Hom sal sien. Dit sal gebeur wanneer Jesus van die hemel af kom saam met sy sterk engele.

8. Dit sal wees soos ’n vuur wat brand. Hy sal almal straf wat nie vir God ken nie, dit is almal wat nie wou luister nie toe ons die goeie boodskap van ons Here Jesus gebring het.

9. Hierdie mense se straf sal wees dat dit vir altyd baie sleg sal gaan met hulle, want die Here sal nie by hulle wees nie. Hulle sal nie kan sien dat Hy ’n Koning is wat alles kan doen nie.

10. Daardie dag wanneer Jesus kom, sal al die gelowiges vir Hom sê hulle is bly dat Hy kom en dat Hy hulle Koning is. Almal wat in Hom glo, sal Hom prys. Julle sal dit ook doen omdat julle geglo het wat ons vir julle vertel het.

11. Ons bid altyd vir julle dat ons God julle gereed sal maak om te lewe soos Hy wil hê. Hy het julle gekies om aan Hom te behoort. Ons bid dat God die goeie dinge sal klaarmaak wat julle begin doen het, die dinge wat julle doen omdat julle in Hom glo. Want God het die krag, Hy kan dit doen.

12. Ons bid dat God dit sal doen sodat julle ons Here Jesus se Naam kan prys en sodat Hy vir julle ook kan prys. Al hierdie dinge kan net gebeur omdat ons God en die Here Jesus Christus goed is vir julle.