Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 8:1-9 Bybel vir Almal (ABA)

1. Vriende, ons wil hê julle moet weet dat God genadig was vir die gemeentes in die provinsie Masedonië.

2. Hierdie gemeentes is baie arm. En God het hulle getoets, ja, hulle het baie swaar gekry. Maar hulle is ook baie bly. En nou het hulle gewys dat hulle ryk is, want hulle het ander gelowiges wat swaarkry, baie gehelp.

3. Hierdie gemeentes het gegee wat hulle kon gee. Nee, ek kan getuig dat hulle meer gegee het as wat hulle kon gee. Hulle het self gekom en

4. ernstig vir ons gevra of hulle vir ons kan help om geld te kollekteer vir die gelowiges in die provinsie Judea. Hulle het gesê dit sal hulle baie bly maak.

5. Maar hulle het baie meer gedoen as wat ons gehoop het. Hulle het die belangrikste ding eerste gedoen: Hulle het hulleself vir die Here en vir ons gegee. Dít is soos God wil hê.

6. Hulle het gesê ons moet vir Titus bemoedig. Ja, ons weet dat hy al klaar begin het om by julle te kollekteer vir die gelowiges in Judea. Maar die gemeentes in Masedonië wil hê dat Titus moet aanhou om te kollekteer totdat dit klaar is.

7. Ons weet dat julle alles baie goed doen. Julle glo baie sterk, julle kan goed praat. Julle weet baie van die ware lewe. Julle hou nie op om goed te doen nie. En julle is lief vir mekaar soos ons vir julle geleer het. Nou moet julle ook goed doen en geld gee wanneer Titus by julle kollekteer.

8. Julle moet onthou, ek sê nie dat julle geld móét gee nie. Ek wil sien of julle ook wil help soos die gelowiges in Masedonië. En ek wil kyk of julle regtig lief is vir ander mense.

9. Julle weet dat ons Here Jesus Christus genadig is vir ons. Hy is ryk, maar Hy het arm geword vir julle. Nou kan julle ryk wees omdat Jesus arm geword het.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 8