Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 4:7-17 Bybel vir Almal (ABA)

7. Hierdie boodskap oor Jesus Christus is baie kosbaar. Maar God het die boodskap gebêre in kleipotte wat maklik kan breek. Hierdie kleipotte is ons. Almal moet sien dat die boodskap groot krag het omdat dit van God kom en nie van ons nie.

8. Mense hou aan om ons te laat swaarkry, maar ons hou aan om te lewe. Ons weet nie altyd wat om te doen nie, maar ons is nie moedeloos nie.

9. Mense wil ons doodmaak, maar God los ons nie. Mense slaan ons sodat ons val, maar ons sterf nie.

10. Ja, wanneer julle sien hoe ons lewe, dan kan julle sien hoe Jesus swaargekry en gesterf het. Wanneer julle sien hoe ons lewe, dan kan julle ook sien dat Jesus weer lewe.

11. God laat vir ons wat nog lewe, altyd so swaar kry dat ons amper sterf, want ons doen Jesus se werk. Maar wanneer julle sien hoe ons lewe, dan wys God dat Jesus lewe, Hy wys dit vir ons wat eendag moet sterf.

12. Daarom, terwyl ons altyd veg teen die dood, kry julle die lewe.

13. In die Ou Testament is geskryf: Ek het geglo,daarom het ek gepraat.Ons het ook die Heilige Gees wat ons laat glo. Ons glo, en daarom praat ons.

14. God het die Here Jesus weer laat lewe. Ons weet dat God vir ons ook weer sal laat lewe soos Hy vir Jesus laat lewe het. God sal ons saam met julle voor Hom bring, ons sal wees waar Hy is.

15. Al hierdie dinge wat met ons gebeur, help vir julle. So kan God genadig wees vir meer mense. Dan kan meer mense dankie sê vir God. En so kry God al die eer, God wat die Koning is.

16. Daarom word ons nie moedeloos nie. Ons liggame is besig om te sterf, maar God maak ons geestelike lewe elke dag nuut.

17. Want wanneer ons swaarkry, dan is dit net vir ’n kort tydjie en dit is nie baie swaar nie. Later bring hierdie swaarkry vir ons iets wat beter is as al die ander dinge, iets wat baie belangrik is, dit is dat ons vir altyd saam met God kan wees.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 4