hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 4 Bybel vir Almal (ABA)

Paulus en die ander apostels bring die boodskap dat Jesus Christus die Here is

1. God was baie goed vir ons, Hy het vir ons die werk gegee om die boodskap te bring dat Jesus Christus die Here is. Daarom word ons nie moedeloos nie.

2. Ons het voorheen dinge gedoen wat ander mense nie mag sien nie, dinge waaroor ons skaam moet wees, maar nou doen ons dit nie meer nie. Ons bedrieg niemand nie en ons maak nie die boodskap van God vals nie. Ons sê duidelik wat die waarheid is. Elke mens wat weet wat is reg en wat is verkeerd, kan vir ons vertrou. God sien alles wat ons doen.

3. Maar as daar miskien ’n sluier hang oor die goeie boodskap wat ons bring, en as mense die boodskap nie verstaan nie, dan is dit omdat hulle die mense is wat verlore gaan.

4. Die god van hierdie wêreld het die verstand van die ongelowiges blind gemaak. Hulle kan nie die lig sien van die goeie boodskap wat sê dat Christus die Koning is nie. Christus het vir ons kom wys hoe God is.

5. Ons bring nie ’n boodskap oor onsself nie, ons bring ’n boodskap oor Jesus Christus wat die Here is. Maar julle moet ook weet dat ons julle slawe is omdat ons Jesus se boodskap vir julle bring.

6. Ons doen dit omdat God gesê het dat daar lig moet skyn uit die donker. So het God ook in ons harte geskyn. Hy het dit lig gemaak in ons sodat ons kan weet dat Hy die Koning is en dat Jesus Christus ook Koning is, Jesus het vir ons kom wys hoe God is.

Die mense wat die boodskap oor Jesus bring, kan maklik seerkry

7. Hierdie boodskap oor Jesus Christus is baie kosbaar. Maar God het die boodskap gebêre in kleipotte wat maklik kan breek. Hierdie kleipotte is ons. Almal moet sien dat die boodskap groot krag het omdat dit van God kom en nie van ons nie.

8. Mense hou aan om ons te laat swaarkry, maar ons hou aan om te lewe. Ons weet nie altyd wat om te doen nie, maar ons is nie moedeloos nie.

9. Mense wil ons doodmaak, maar God los ons nie. Mense slaan ons sodat ons val, maar ons sterf nie.

10. Ja, wanneer julle sien hoe ons lewe, dan kan julle sien hoe Jesus swaargekry en gesterf het. Wanneer julle sien hoe ons lewe, dan kan julle ook sien dat Jesus weer lewe.

11. God laat vir ons wat nog lewe, altyd so swaar kry dat ons amper sterf, want ons doen Jesus se werk. Maar wanneer julle sien hoe ons lewe, dan wys God dat Jesus lewe, Hy wys dit vir ons wat eendag moet sterf.

12. Daarom, terwyl ons altyd veg teen die dood, kry julle die lewe.

13. In die Ou Testament is geskryf: Ek het geglo,daarom het ek gepraat.Ons het ook die Heilige Gees wat ons laat glo. Ons glo, en daarom praat ons.

14. God het die Here Jesus weer laat lewe. Ons weet dat God vir ons ook weer sal laat lewe soos Hy vir Jesus laat lewe het. God sal ons saam met julle voor Hom bring, ons sal wees waar Hy is.

15. Al hierdie dinge wat met ons gebeur, help vir julle. So kan God genadig wees vir meer mense. Dan kan meer mense dankie sê vir God. En so kry God al die eer, God wat die Koning is.

Paulus en die ander apostels lewe omdat hulle glo, nie omdat hulle sien nie

16. Daarom word ons nie moedeloos nie. Ons liggame is besig om te sterf, maar God maak ons geestelike lewe elke dag nuut.

17. Want wanneer ons swaarkry, dan is dit net vir ’n kort tydjie en dit is nie baie swaar nie. Later bring hierdie swaarkry vir ons iets wat beter is as al die ander dinge, iets wat baie belangrik is, dit is dat ons vir altyd saam met God kan wees.

18. Daarom is die dinge wat ’n mens kan sien, nie baie belangrik vir ons nie. Die dinge wat ’n mens nie kan sien nie, is belangrik. Die dinge wat ’n mens kan sien, is net ’n kort tydjie daar, maar die dinge wat ’n mens nie kan sien nie, is vir altyd.