Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 2:9-17 Bybel vir Almal (ABA)

9. Dit is ook hoekom ek vir julle geskryf het. Ek wou weet of julle goeie gelowiges is, of julle luister na alles wat ek vir julle geleer het.

10. As julle iemand vergewe wat iets verkeerd gedoen het, dan vergewe ek hom ook. Dit was nie so belangrik dat ék daardie persoon moes vergewe nie, maar toe ek hom vergewe het, het ek dit gedoen om vir julle te leer hoe julle saam met ander mense moet lewe. Ek het dit ook gedoen omdat ek vir Christus werk.

11. Julle moet onthou, die Satan mag ons nie verkeerd laat besluit met sy skelm planne nie. Ons weet watter planne hy altyd het. Hy wil ons keer sodat ons nie reg lewe nie.

12. Toe ek in die stad Troas gekom het, was die Here by my, sodat ek die goeie boodskap oor Christus maklik kon preek.

13. Maar ek was baie bekommerd omdat ek nie vir Titus daar gekry het nie. Titus is my vriend wat saam met my werk vir die Here. Daarom het ek die mense van Troas gegroet en na die provinsie Masedonië gegaan.

14. Ons moet vir God dankie sê, Hy wys altyd vir almal dat ons aan Christus behoort en dat Christus die Koning is wat sy vyande oorwin het. God gebruik ons sodat mense oral vir Christus kan leer ken. Dit is soos wanneer ’n mens iets ruik.

15. God red party mense en party mense gaan verlore. Wanneer ons die boodskap oor Christus preek, dan is dit soos wanneer die mense iets ruik.

16. Die boodskap ruik baie sleg vir die mense wat verlore gaan, dit ruik soos iets wat dood is. Maar die boodskap ruik baie lekker vir die ander mense, want God red hulle, en die boodskap bring lewe. Ja, dit is baie moeilik vir ’n mens om God se boodskap te bring.

17. Want ons is nie soos baie ander mense wat die boodskap van God bring om geld te kry nie. Nee, wanneer ons preek, dan is ons eerlik. Want God het ons gestuur, ons weet dat Hy ons altyd kan sien, en ons behoort aan Christus.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 2