hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 2 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ja, ek het vas besluit dat ek nie weer na julle toe sal kom as dit julle sleg sal laat voel nie.

2. Want as ek julle sleg laat voel, wie sal dan vir mý bly maak? Dit is net julle wat vir my bly kan maak, maar nou laat ek julle sleg voel.

3. Ek het vir julle geskryf oor dinge wat verkeerd is by julle. Ek het dit gedoen sodat ek nie sleg sal voel wanneer ek weer by julle kom nie. Julle moet onthou dat júlle die mense is wat vir mý bly moet maak. En ek is seker dat julle almal ook bly wil wees soos ek bly is.

4. Toe ek vir julle geskryf het, was ek baie bekommerd en ek was baie hartseer. Ek het baie gehuil toe ek daardie brief geskryf het. Maar ek het dit nie geskryf om julle sleg te laat voel nie. Nee, ek wou hê julle moet weet dat ek baie lief is vir julle.

Paulus vra dat die gemeente die persoon moet vergewe wat probleme gemaak het

5. Die persoon in julle gemeente wat probleme gemaak het, het nie regtig vir my hartseer gemaak nie. Daardie persoon het vir júlle almal hartseer gemaak. Nee, ek praat verkeerd, hy het amper vir almal hartseer gemaak.

6. Die meeste mense in die gemeente was kwaad vir daardie persoon, daarom het hy nou genoeg straf gekry.

7. Dit sal beter wees as julle hom nou vergewe en hom bemoedig, sodat die straf en die hartseer nie te veel word vir hom nie.

8. Daarom vra ek mooi vir julle om lief te wees vir hom.

9. Dit is ook hoekom ek vir julle geskryf het. Ek wou weet of julle goeie gelowiges is, of julle luister na alles wat ek vir julle geleer het.

10. As julle iemand vergewe wat iets verkeerd gedoen het, dan vergewe ek hom ook. Dit was nie so belangrik dat ék daardie persoon moes vergewe nie, maar toe ek hom vergewe het, het ek dit gedoen om vir julle te leer hoe julle saam met ander mense moet lewe. Ek het dit ook gedoen omdat ek vir Christus werk.

11. Julle moet onthou, die Satan mag ons nie verkeerd laat besluit met sy skelm planne nie. Ons weet watter planne hy altyd het. Hy wil ons keer sodat ons nie reg lewe nie.

Die goeie boodskap oor Christus is slegte nuus vir party mense en goeie nuus vir ander mense

12. Toe ek in die stad Troas gekom het, was die Here by my, sodat ek die goeie boodskap oor Christus maklik kon preek.

13. Maar ek was baie bekommerd omdat ek nie vir Titus daar gekry het nie. Titus is my vriend wat saam met my werk vir die Here. Daarom het ek die mense van Troas gegroet en na die provinsie Masedonië gegaan.

14. Ons moet vir God dankie sê, Hy wys altyd vir almal dat ons aan Christus behoort en dat Christus die Koning is wat sy vyande oorwin het. God gebruik ons sodat mense oral vir Christus kan leer ken. Dit is soos wanneer ’n mens iets ruik.

15. God red party mense en party mense gaan verlore. Wanneer ons die boodskap oor Christus preek, dan is dit soos wanneer die mense iets ruik.

16. Die boodskap ruik baie sleg vir die mense wat verlore gaan, dit ruik soos iets wat dood is. Maar die boodskap ruik baie lekker vir die ander mense, want God red hulle, en die boodskap bring lewe. Ja, dit is baie moeilik vir ’n mens om God se boodskap te bring.

17. Want ons is nie soos baie ander mense wat die boodskap van God bring om geld te kry nie. Nee, wanneer ons preek, dan is ons eerlik. Want God het ons gestuur, ons weet dat Hy ons altyd kan sien, en ons behoort aan Christus.