Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 1:12-24 Bybel vir Almal (ABA)

12. Ons is trots daarop dat ons reg gedoen het aan al die mense en spesiaal aan julle. As ons goed dink daaroor, dan weet ons in ons harte dat dit Gód is wat ons so reg laat lewe het. Ons het dit reggekry omdat God genadig was vir ons, nie omdat die wêreld ons so slim gemaak het nie.

13. Die dinge wat julle in ons briewe lees, is die dinge wat ons vir julle wil sê, en julle moet dit so verstaan. Ek hoop dat julle alles meer en meer sal verstaan

14. soos julle klaar begin het om ons te verstaan. Ja, ons wil hê dat julle trots sal wees op ons, so trots soos ons sal wees op julle, daardie dag wanneer ons Here Jesus weer kom.

15. Ek was seker dat julle verstaan, en daarom het ek besluit om eers na julle toe te kom, sodat julle twee maal bly kan wees wanneer julle my sien.

16. Want ek wou eers na julle toe gaan en dan na die provinsie Masedonië. Ek wou dan weer van Masedonië terugkom na julle toe. Ek wou hê dat julle my moet help om na die provinsie Judea te gaan.

17. Dit is wat ek wou doen. Ek het nie vir julle ’n leuen vertel nie, maar toe het ek nie van Masedonië teruggekom na julle toe nie. Ek het nie gedoen soos die mense van die wêreld doen nie. Hulle doen nie wat hulle sê nie. Hulle sê “ja,” maar dit kan ook “nee” wees.

18. Julle weet dat God doen wat Hy belowe. So doen ons ook wat ons belowe. Wanneer ons “ja” sê, dan is dit “ja,” en wanneer ons “nee” sê, dan is dit “nee.”

19. Julle moet onthou dat ek en Silvanus en Timoteus die boodskap oor die Seun van God, Jesus Christus, vir julle gebring het. En julle weet dat Jesus nie “ja” én “nee” is nie. Jesus is God se “ja.”

20. Want alles wat God belowe het, het waar geword toe Christus gekom het. Daarom, wanneer ons “amen” sê, dan sê ons dat alles waar is wat ons van Christus glo. En so prys ons vir God.

21. God is die Een wat vir ons sê dat ons en julle saam aan Christus behoort. God het ook gesê dat ons vir Hom moet werk.

22. Hy het gewys dat ons aan Hom behoort toe Hy die Heilige Gees in ons harte gegee het. Die Heilige Gees sê vir ons dat ons altyd aan Hom sal behoort.

23. Ek het toe nie van Masedonië na Korinte teruggekom nie. Hoekom nie? Dit was omdat ek jammer was vir julle. God weet dit is waar, Hy kan my straf as ek nie die waarheid praat nie.

24. Julle moenie dink dat ek vir julle wil sê hoe julle moet glo nie. Nee, ons wil graag saam met julle werk sodat julle bly kan wees, want julle hou nog altyd aan om te glo.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 1