Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 1:4-18-19 Bybel vir Almal (ABA)

4. Ons is seker dat God vir julle alles sal gee wat Hy belowe het. Niemand kan die dinge wegvat wat God gee nie, dit bly dieselfde, dit is nie soos ’n blom wat droog word en verlep nie. God het hierdie dinge vir julle gebêre in die hemel.

5. God is sterk, Hy pas ook vir julle mooi op, julle wat in Hom glo. Hy wil julle red op die laaste dag, julle sal dit sien.

6. Julle moet baie bly wees dat God julle wil red. Julle kry nou baie swaar en julle dink dat julle miskien moet ophou om vir God te dien. Maar julle sal net ’n kort tydjie swaarkry.

7. Hierdie dinge wat julle laat swaarkry, toets julle geloof, en julle geloof is meer kosbaar as goud. Goud bly nie altyd dieselfde nie, maar ’n mens smelt goud in vuur om dit skoon te maak. Wanneer julle swaarkry en wanneer God julle geloof toets, dan sal mense sien dat julle geloof beter is as goud wat mense gesmelt het. Wanneer Jesus Christus weer kom, dan sal julle belangrik wees, God sal julle prys en vir julle eer gee.

8. Julle het nooit vir Jesus Christus gesien nie, maar julle is lief vir Hom. Julle sien Hom nou ook nie, maar julle glo in Hom. Ja, julle is baie bly, ’n mens kan nie met woorde sê of verduidelik hoe bly julle is nie, dit is God wat julle so bly maak.

9. Julle is bly, want julle weet wat julle gaan kry: God sal vir julle red, julle wat in Christus glo.

10. Die profete het baie hard probeer om uit te vind hoe God vir julle sal red, en hulle het vir julle die boodskap van genade gebring.

11. Die Gees van Christus wat in die profete gewoon het, het lank gelede vertel dat Christus baie swaar sal kry en dat Hy daarna Koning sal wees. Die profete het probeer om uit te vind wanneer en hoe die dinge met Christus sal gebeur, die dinge waarvan die Gees gepraat het.

12. God het vir die profete gewys dat hulle die goeie boodskap nie vir hulleself moes bring nie, maar vir julle. God het die Heilige Gees gestuur, en die Heilige Gees het vir die profete die goeie boodskap gegee wat hulle nou vir julle gebring het. Die engele wil ook graag hierdie dinge weet.

13. Daarom moet julle gereed wees, julle moet goed dink wat julle doen en julle moet wag en heeltemal seker wees dat God genadig sal wees vir julle op die dag wanneer Jesus Christus kom.

14. Julle moet lewe soos kinders wat gehoorsaam is, julle moenie lewe soos julle voorheen gelewe het nie. In daardie tyd het julle nog nie die goeie boodskap van God geken nie, en toe wou julle graag slegte dinge doen.

15. Nee, God het julle gekies om sy volk te wees en Hy is heilig. Daarom moet julle heeltemal lewe soos mense wat aan God behoort.

16. Julle moet so lewe omdat daar in die Ou Testament geskryf is: “Julle moet julleself aan My wy, want Ek is heilig.”

17. Julle bid tot God en julle noem Hom julle Vader. Hy dink nie dat een mens belangriker is as ’n ander mens nie en daarom sal Hy elke mens oordeel oor wat hy gedoen het. Daarom moet julle vir God respekteer terwyl julle soos vreemdelinge in die wêreld is.

18-19. Julle weet dat Christus julle vrygemaak het van die slegte lewe wat niks beteken nie, julle het by julle voorvaders geleer om so te lewe. Christus het julle vrygemaak, maar Hy het julle nie gekoop met silwer of goud nie. Dit is dinge wat kan ophou om iets te beteken. Nee, Christus het julle vrygemaak met iets wat baie beter is, Hy het julle vrygemaak toe Hy gesterf het. Hy het gesterf soos ’n lam wat ’n offer was, ’n lam wat heeltemal gesond en perfek was.

Lees volledige hoofstuk 1 Petrus 1