Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 3:1-14 Bybel vir Almal (ABA)

1. Vriende, ek kon nie met julle praat soos met geestelike mense nie. Ek het met julle gepraat soos met wêreldse mense, soos met klein kindertjies wat vir die eerste maal van Christus gehoor het.

2. Ek het vir julle melk gegee soos vir klein kindertjies. Ek het nie vir julle grootmenskos gegee nie, want julle kon dit nie eet nie. Julle kan dit ook nou nog nie eet nie.

3. Julle is nog wêreldse mense, want julle is jaloers op mekaar en julle twis met mekaar. Dit wys dat julle wêreldse mense is, julle doen wat die mense van die wêreld doen.

4. Party van julle sê: “Ek behoort aan Paulus,” ander sê: “Ek behoort aan Apollos.” Wanneer julle so sê, dan doen julle wat die mense van die wêreld doen.

5. Apollos en ek, Paulus, is nie belangrik nie. Ons is net mense wat vir julle gehelp het om te begin glo. Die Here het vir my en Apollos elkeen ’n werk gegee.

6. Ek het die saad van die boodskap van God geplant en Apollos het dit natgegooi, maar dit is God wat dit laat groei het.

7. Die persoon wat plant en die persoon wat natgooi, is nie belangrik nie. Die Persoon wat laat groei, is belangrik, en dit is God.

8. Die persoon wat plant, doen nie belangriker werk as die persoon wat natgooi nie. God sal elkeen beloon vir die werk wat hy gedoen het.

9. Ons werk almal saam vir God. En julle is soos ’n stuk grond waar God besig is om te werk.Julle is ’n gebou van God.

10. God was genadig vir my. Hy het gesê ek mag die fondament bou. Toe het ek soos ’n goeie bouer die fondament gebou, en ’n ander bouer bou verder daarop. Elkeen moet goed kyk hoe hy daarop bou.

11. Niemand kan ’n ander fondament bou nie, want daar is klaar ’n fondament. Hierdie fondament is Jesus Christus.

12. ’n Mens kan op hierdie fondament bou met goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi.

13. Wanneer die Here kom, dan sal almal kan sien waarmee elkeen gebou het, want op daardie dag sal daar ook vuur kom. Die vuur sal elkeen se bouwerk toets om te kyk of hy goed gebou het.

14. Wanneer iemand op die fondament gebou het, en sy werk bly staan, dan sal die Here daardie persoon beloon.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 3