Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 11:20-34 Bybel vir Almal (ABA)

20. Wanneer julle gemeente bymekaarkom om nagmaal te vier, dan vier julle nie regtig die nagmaal van die Here nie.

21. Want wanneer julle eet, dan is daar party mense wat voor die ander begin eet, en hulle eet dan hulle eie kos. En wat gebeur dan? Party mense kry niks om te eet nie, en ander mense drink te veel.

22. Het julle nie huise waar julle kan eet en drink nie? Ja, julle het. Julle wys dat die gemeente van God glad nie belangrik is vir julle nie, want julle verneder die mense wat min het. Wat moet ek vir julle sê? Moet ek julle prys? Nee, nooit nie.

23. Ek sê hierdie dinge vir julle, want die Here self het vir my gesê wat die nagmaal is, en ek het dit ook vir julle geleer: Daardie nag toe Judas Iskariot vir die Here Jesus verraai het, het Jesus brood geneem

24. en Hy het vir God dankie gesê. Toe het Hy die brood gebreek en gesê: “Dit is my liggaam wat Ek vir julle gee. Wanneer julle die brood breek en eet, dan moet julle aan My dink.”

25. Nadat hulle dit geëet het, het Jesus ook die beker geneem en gesê: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed is die bloed van die nuwe verbond. Elke maal wanneer julle die wyn drink, dan moet julle aan My dink.”

26. Want elke maal wanneer julle hierdie brood eet en die wyn drink, dan preek julle dat die Here Jesus gesterf het. En julle doen dit totdat Hy weer kom.

27. Daarom, as iemand nie op die regte manier die brood van die Here eet of die wyn van die Here drink nie, dan is hy so skuldig soos die mense wat vir die Here doodgemaak het.

28. Elkeen moet eers vir homself ernstig vra of hy verstaan wat die nagmaal beteken en of hy reg lewe. En as hy dink dat hy dit verstaan en dat hy reg lewe, dan mag hy van die brood eet en uit die beker drink.

29. Die gemeente is die liggaam van die Here. As jy dit nie verstaan nie, dan eet en drink jy verkeerd by die nagmaal. En dan sal die Here jou straf.

30. Daarom is daar baie van julle wat swak en siek is, en daarom het baie mense ook gesterf.

31. Ons moet eers vir onsself ernstig vra of ons verstaan wat die nagmaal beteken en of ons reg lewe. As julle dit gedoen het, dan het die Here julle nie gestraf nie.

32. Maar as die Here ons straf, dan doen Hy dit soos ’n pa wat sy kinders straf. Hy wil ons nie saam met die mense van die wêreld straf nie.

33. My vriende, daarom moet julle vir mekaar wag wanneer julle bymekaarkom om die nagmaal te vier.

34. Wanneer iemand honger is, dan moet hy by sy huis eet voordat julle bymekaarkom. As julle dit nie doen nie, dan sal die Here julle straf.Daar is nog ander dinge waaroor ek met julle wil praat, maar ek sal dit doen wanneer ek na julle toe kom.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 11