Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 8:19-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. Moses het hom geslag en die bloed rondom teen die altaar uitgegooi.

20. Hy het die ram opgesny. Hy het die kop, die opgesnyde dele, die binnevet, en

21. nadat hy dit skoon gewas het, ook die binnegoed en pote verbrand. So het Moses die hele ram op die altaar verbrand. Dit was 'n brandoffer wat deur die Here aanvaar is, 'n vuuroffer wat aan die Here gebring is soos Hy Moses beveel het.

22. Hierna is die ander ram wat vir die priesterwyding bedoel was, na die altaar toe gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande ook op die kop van dié ram gesit.

23. Moses het hom geslag en van die bloed aan Aäron se regteroorlel, sy regterduim en regtergroottoon gesmeer.

24. Moses het die seuns van Aäron laat naderkom en van die bloed ook aan húlle regteroorlelle, regterduime en regtergroottone gesmeer. Die res van die bloed het hy rondom teen die altaar uitgegooi.

25. Hy het die vet, dit is die vetstert en al die vet wat aan die binnegoed sit, saam met die punt van die lewer, die twee niere met die niervet en die regterboud eenkant gesit.

26. Hy het 'n ongesuurde ringbrood, 'n ringbrood wat met olie geknie is, en 'n roosterkoek uitgehaal uit die mandjie met ongesuurde brood wat by die altaar gestaan het, en dit by die vet en die regterboud gesit.

27. Daarna het hy dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle aangesê om dit as 'n beweegoffer vir die Here aan te bied.

28. Moses het dit toe by hulle geneem en dit op die altaar bo-op die brandoffer verbrand. Die offer waarmee die priesters gewy is, was 'n offer wat deur die Here aanvaar is. Dit was 'n vuuroffer wat vir die Here aangebied is.

29. Moses het die bors as 'n beweegoffer vir die Here aangebied. Dit was die deel van die offerram vir die priesterwyding wat Moses, volgens die bevel van die Here, gekry het.

30. Daarna het Moses van die salfolie en van die bloed wat op die altaar was, oor Aäron en sy klere gesprinkel en ook oor sy seuns en hulle klere. So het Moses vir Aäron en sy seuns en hulle klere aan die Here gewy.

31. Moses het vir Aäron en sy seuns gesê: “Kook die vleis by die ingang van die tent van ontmoeting en eet dit daar saam met die brood in die mandjie wat gebruik is by die priesterwyding, want die bevel aan my was: ‘Aäron en sy seuns moet dit eet.’

32. As daar iets oorbly van die vleis of die brood, moet dit verbrand word.

33. Julle mag 'n week lank nie die ingang van die tent van ontmoeting verlaat nie, nie voordat die sewe dae van die wydingseremonies verby is nie.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 8