Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 5:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Wanneer iemand hoor of te wete kom dat 'n vervloeking uitgespreek is en hy verswyg dit, sondig hy. Hy was 'n getuie daarvan, en daarom rus daar skuld op hom.

2. “Iemand raak dalk aan iets onreins, aan die onrein dooie liggaam van 'n wilde dier of 'n mak dier of 'n insek, en hy is nie bewus daarvan nie; dan is hy onrein en is hy skuldig;

3. of iemand raak aan iets onreins van 'n mens, iets wat hom onrein maak, en hy is nie bewus daarvan nie, is hy skuldig;

4. of iemand lê 'n onbesonne eed af, ten goede of ten kwade, hoe 'n mens ook al onbesonne dinge kan sê in 'n eed, en hy is nie bewus dat dit onbesonne is nie, is hy skuldig. In enige van hierdie gevalle is hy skuldig.

5. Wanneer hy in enige van dié gevalle te wete kom dat hy skuldig geword het, bely hy dat hy gesondig het

6. en bring hy vir die Here 'n skuldoffer oor die sonde wat hy gedoen het. Dit kan 'n skaapooi of 'n bokooi wees wat hy as sondeoffer bring. Die priester doen versoening vir die persoon oor sy sonde.

7. “As 'n stuk kleinvee bo die vermoë van die persoon is, bring hy as skuldoffer vir sy sonde twee tortelduiwe of twee ander duiwe vir die Here, een as sondeoffer en een as brandoffer.

8. Hy bring hulle na die priester toe, en die priester bied eers dié een aan wat as sondeoffer bedoel is. Die priester knyp die duif se nek teen die kop af, maar verwyder nie die kop nie.

9. Hy sprinkel van die bloed van die sondeoffer teen die kante van die altaar, en die bloed wat oorbly, druk hy teen die fondament van die altaar uit. Dit is die sondeoffer.

10. Die tweede duif word as brandoffer gebring op die voorgeskrewe wyse. So doen die priester vir die persoon versoening vir die sonde wat hy gedoen het, en word sy sonde vergewe.

11. “As twee tortelduiwe of twee ander duiwe bo die persoon se vermoë is, bring hy as offer vir sy sonde twee kilogram meel as sondeoffer. Hy gooi nie olie daarop nie en sit nie wierook bo-op nie, want dit is 'n sondeoffer.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 5