Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 13:24-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. “Wanneer iemand 'n brandwond opgedoen het en die rou wond vorm 'n rooierige of 'n wit seer,

25. moet die priester die plek ondersoek. As die hare op die seer wit geword het en die seer lyk dieper as die vel, het deur die brandwond 'n velsiekte ontstaan waardeur die persoon onrein gemaak word. Die priester moet die persoon onrein verklaar. Hy het 'n velsiekte wat hom onrein maak.

26. As die priester by sy ondersoek egter vind dat die hare op die seer nie wit geword het nie, dat die seer nie dieper is as die vel nie en dat die ontsteking opgeklaar het, moet die priester die persoon 'n week lank afsonder.

27. Op die sewende dag moet die priester die persoon weer ondersoek. As die kwaad verder versprei het in die vel, moet die priester die persoon onrein verklaar. Dit is 'n velsiekte wat hom onrein maak.

28. Maar as die plek onverander bly en die ontsteking het nie in die vel versprei nie maar opgeklaar, is dit die swelsel van die brandwond. Die priester moet hom dan rein verklaar, want dit is maar net die merk van die brandwond.

29. “Wanneer daar 'n seerplek is aan die kop van 'n man of 'n vrou of in die baard van 'n man,

30. moet die priester dit ondersoek. As dit lyk of die kwaad dieper is as die vel en as die hare daarop geel en donserig is, moet die priester die persoon onrein verklaar. Dit is 'n skurfsiekte, 'n velsiekte aan die kop of gesig, waardeur die persoon onrein gemaak word.

31. As die priester egter sien dat die skurfsiekte nie dieper is as die vel nie, maar dat die hare daarop tog nie 'n gesonde kleur het nie, moet hy die persoon met die skurfsiekte 'n week lank afsonder.

32. Op die sewende dag moet die priester weer die seerplek ondersoek. As die skurfsiekte nie versprei het nie, die hare daarop nie geel is nie en dit nie dieper lyk as die vel nie,

33. moet al die hare afgeskeer word behalwe dié waar die skurfsiekte is. Daarna moet die priester die persoon nog 'n week afsonder.

34. Op die sewende dag moet die priester die skurfsiekte weer ondersoek. As dit nie versprei het in die vel nie en dit lyk nie dieper as die vel nie, moet die priester die persoon rein verklaar. Nadat hy sy klere gewas het, sal hy rein wees.

35. As daar egter enige verspreiding van die skurfsiekte voorkom nadat die persoon rein verklaar is,

36. moet die priester hom weer ondersoek. As dit duidelik is dat die skurfsiekte versprei het op die vel, hoef die priester nie eens te kyk of daar geel hare is nie. Die persoon is onrein.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 13