Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 44:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die woord van die Here wat gekom het tot Jeremia vir al die Judeërs wat in Egipte gewoon het, in Migdol, in Tagpanges, in Memfis en in die Patrosstreek:

2. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle het gesien watter rampe Ek alles oor Jerusalem en al die stede van Juda gebring het; hulle is vandag puinhope en daar woon niemand in hulle nie.

3. Dit het gebeur omdat julle en julle voorvaders gesondig het en My in my eer gekrenk het toe julle vir ander gode wierookoffers gebring en hulle gedien het, gode van wie julle nie voorheen geweet het nie.

4. Ek het my dienaars die profete almal na julle toe gestuur, vroeg en laat, en vir julle gesê: Moenie die afskuwelike dinge doen nie. Ek haat dit.

5. Maar julle het nie geluister nie, nie gehoor gegee en julle van julle sonde bekeer en opgehou om wierookoffers vir ander gode te bring nie.

6. Daarom het my gramskap en my toorn ontvlam. Dit het gebrand in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem, en die stede het puinhope geword, verlate soos hulle vandag is.

7. So sê die Here die almagtige God, die God van Israel: Waarom bring julle die groot ramp oor julleself, oor elke man en vrou, elke kind en suigling uit Juda, sodat daar niks van julle oor is nie?

8. Julle tart My met wat julle doen, julle offer aan ander gode hier in Egipte waar julle kom woon het. So roei julle julleself uit en sal die mense op die hele aarde julle name as voorbeelde gebruik wanneer hulle mekaar iets slegs wil toewens of wil verneder.

9. Het julle vergeet van die sonde wat julle voorvaders en die konings van Juda en hulle vrouens gedoen het en wat julle self en julle vrouens gedoen het in Juda en op die strate van Jerusalem?

10. Julle het tot vandag toe nie berou daaroor nie, julle het nog nie eerbied vir My nie, julle leef nog nie volgens my wet en my voorskrifte wat Ek vir julle en julle voorvaders gegee het nie.

11. Daarom, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel, gaan Ek julle swaar straf en die hele Juda uitroei.

12. Ek gaan dié wat van Juda oor is en wat besluit het om hier in Egipte te kom woon, heeltemal vernietig. Julle sal almal deur die oorlog en deur hongersnood afgemaai word in Egipte. Van klein tot groot sal sterf deur oorlog en deur hongersnood. Julle name sal gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, iets slegs wil toewens of wil verneder.

13. Ek sal dié wat in Egipte woon, straf soos Ek dié in Jerusalem gestraf het: met oorlog, met hongersnood, met pes.

14. Daar sal nie een vrykom van dié wat van Juda oor is en wat in Egipte gaan woon het nie, nie een om na Juda toe terug te gaan nie, hoe hulle ook daarna verlang om terug te gaan en daar te gaan woon. Hulle sal nie teruggaan nie, nie vrykom nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 44