hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 8 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die tweede plaag: paddas

1. Daarna sê die Here vir Moses: “Gaan sê vir die farao: So sê die Here: Laat my volk gaan om My te dien.

2. As jy weier om hulle te laat gaan, sal Ek jou hele gebied met 'n paddaplaag tref.

3. Die Nyl sal wemel van die paddas. Hulle sal uitspring en in jou paleis kom, in jou slaapkamer, op jou bed, in jou amptenare se huise, tussen jou mense, in jou bakoonde en in jou skottels.

4. Die paddas sal op jou en op jou mense en al jou amptenare spring.”

5. Verder sê die Here vir Moses: “Sê vir Aäron: Swaai jou kierie oor die kanale, riviere en moerasse. Laat daar paddas kom oor Egipte.”

6. Aäron swaai toe sy kierie oor al die water van Egipte en toe kom die paddas: Egipte was oortrek van hulle.

7. Tog het die towenaars met hulle towerkunste dieselfde gedoen en ook paddas oor Egipte laat kom.

8. Hierna roep die farao vir Moses en Aäron en sê: “Julle moet die Here bid dat Hy die paddas van my en my mense af wegvat. Dan sal ek die volk laat gaan dat hulle vir die Here kan gaan offer.”

9. Moses antwoord toe: “Soos dit U Majesteit behaag. Wanneer sal ek vir u, u amptenare en u mense bid dat die paddas heeltemal van u en u huise af weggevat kan word, en daar net in die Nyl nog van hulle sal oorbly?”

10. En die farao antwoord: “Doen dit môre.”Toe sê Moses: “Goed, dan sal u besef dat daar geen god is soos ons God, die Here, nie.

11. Die paddas sal van u af weggevat word, van u huise, u amptenare en u mense af; net in die Nyl sal daar nog paddas oorbly.”

12. Moses en Aäron het van die farao af weggegaan en Moses het die Here aangeroep oor die paddas wat Hy oor die farao gebring het.

13. Die Here het gedoen wat Moses gevra het, en die paddas het gevrek, in die huise, in die binneplase en op die lande.

14. Die mense het dit hope-hope bymekaargehark, en die land het daarvan gestink.

15. Maar toe die farao sien dat daar verligting gekom het, het hy weer onversetlik geword. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, soos die Here vooraf gesê het.

Die derde plaag: muggies

16. Daarna het die Here vir Moses gesê: “Sê vir Aäron: Swaai jou kierie en slaan op die grond dat daar muggies oor die hele Egipte kom.”

17. Hulle twee het toe so gemaak. Aäron het die kierie geswaai en op die grond geslaan, en mens en dier was oortrek van die muggies. In die hele Egipte het elke krieseltjie stof 'n muggie geword.

18. Die towenaars het dieselfde probeer doen met hulle towerkunste, dié keer om muggies voort te bring, maar hulle kon nie.Mens en dier was oortrek van die muggies.

19. Toe sê die towenaars vir die farao: “Dit is die vinger van God!”Maar die farao het koppig gebly. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, net soos die Here vooraf gesê het.

Die vierde plaag: steekvlieë

20. Daarna het die Here vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en gaan wag vir die farao by die water. Hy sal juis op pad wees soontoe. Sê vir hom: So sê die Here: Laat my volk gaan om My te dien,

21. want as jy my volk nie laat gaan nie, sal Ek steekvlieë op jou loslaat, op jou amptenare, op jou mense en in jou huise. In die huise van die Egiptenaars en ook op hulle lande sal dit swerm van die steekvlieë.

22. Maar dié dag sal Ek 'n uitsondering maak van die Gosenstreek waar my volk woon. Dáár sal nie 'n enkele steekvlieg wees nie, dat jy kan besef dat Ek, die Here, in die land is.

23. Ek neem mý volk in beskerming, joune nie. Net môre sal hierdie wonder gebeur.”

24. Die Here het dit toe gedoen. Groot swerms steekvlieë het in die paleis van die farao in gekom, in die huise van sy amptenare en oor die hele Egipte. Die land is daardeur lam gelê.

25. Toe roep die farao vir Moses en Aäron en sê: “Julle kan vir julle God gaan offer, maar hier in dié land!”

26. Maar Moses antwoord: “Dit kan ons nie doen nie, want ons offers aan ons God, die Here, gee aanstoot aan die Egiptenaars. As ons nou hier voor hulle oë offers bring wat vir hulle aanstootlik is, sal hulle ons mos met klippe doodgooi!

27. Ons wil maar net drie dagreise ver die woestyn in gaan om aan ons God, die Here, te offer soos Hy ons beveel het.”

28. Hierna sê die farao: “Dan laat ek julle nou maar gaan om in die woestyn vir julle God, die Here, te offer. Moet net nie te ver weg gaan nie, en bid vir my.”

29. Toe antwoord Moses: “Ek gaan nou weg van u af en sal die Here bid dat die steekvlieë môre van u af padgee en van u amptenare en u mense af. U Majesteit moet nou net nie weer u woord breek deur die volk nie te laat gaan om vir die Here te offer nie!”

30. Moses het weggegaan van die farao af en tot die Here gebid.

31. Die Here het toe gedoen wat Moses gevra het en die steekvlieë van die farao af laat padgee, en van sy amptenare en sy mense af. Daar het nie een oorgebly nie.

32. En tog het die farao ook hierdie keer onversetlik gebly en die volk nie laat gaan nie.