hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Bepalings oor die sabbat

1. Moses het die hele gemeente van Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Dit is die gebod wat die Here julle beveel het om te gehoorsaam:

2. “Ses dae moet julle julle werk doen, maar die sewende dag moet vir julle 'n gewyde dag wees. Dit is 'n rusdag tot eer van die Here. Elkeen wat op dié dag werk, moet doodgemaak word.

3. Julle mag op die sabbat geen vuur in enige van julle wonings maak nie.”

Offergawes om 'n heiligdom op te rig

4. Moses het ook vir die hele gemeente Israel gesê: “Dit is die opdrag van die Here:

5. Julle moet uit julle besittings 'n offergawe vir die Here gee. Elkeen wat vrywillig 'n offergawe vir die Here wil gee, moet dit bring: goud, silwer, brons,

6. blou, pers en bloedrooi wolstof, linne, bokhaar,

7. rooigekleurde ramsvelle, gebreide velle of doringhout,

8. olie vir die lampe, balsem vir salfolie en vir geurige wierook,

9. oniks en ander edelstene waarmee die skouerkleed en borssak van die hoëpriester versier kan word.”

Die toebehore vir die tent van ontmoeting

10. “Elke vakman onder julle moet kom help dat alles gemaak word wat die Here beveel het:

11. die tabernakel met die tent daaroor, die kramme, die rame, die dwarslatte, die style met hulle voetstukke;

12. die ark met sy draaghoute, die deksel en die voorhangsel,

13. die tafel met sy draaghoute en al sy toebehore en die offerbrood;

14. die kandelaar met sy toebehore, die lampe met hulle olie,

15. die wierookaltaar met sy draaghoute, die salfolie, die geurige wierook en die afskorting vir die deur van die tabernakel;

16. die brandofferaltaar met al sy toebehore, sy bronstraliewerk waaraan die draaghoute vas kom, die waskom met sy voetstuk,

17. die gordyne van die voorhof, die style met hulle voetstukke, die afskorting vir die deur van die voorhof;

18. die penne van die tabernakel, die penne van die voorhof met hulle toue;

19. die geborduurde klere om in die heiligdom mee te dien, die gewyde klere vir die priester Aäron en vir sy seuns om daarin as priesters diens te doen.”

20. Daarna het die hele gemeente weggegaan van Moses af,

21. en elkeen wat daarna gevoel het, het vrywillig 'n offergawe vir die Here gebring vir die werk aan die tent van ontmoeting, vir al die ander dienste en vir die gewyde klere.

22. Manne en vroue het gekom en vrywillig borsspelde, oorbelle en ringe, halssnoere en allerhande goue voorwerpe gebring. Almal wat tevore goud as spesiale bydrae aan die Here belowe het, het dit gebring.

23. Elkeen wat blou, pers en bloedrooi wolstof, linne, bokhaar, rooigekleurde ramsvelle en gebreide velle besit het, het dit gebring.

24. Elkeen wat 'n bydrae in silwer en brons wou maak, het dit as offergawe vir die Here gebring. Elkeen wat doringhout gehad het, geskik vir allerhande soorte houtwerk, het dit gebring.

25. Elke vrou wat netjies kon weef, het gebring wat sy geweef het: blou, pers en bloedrooi wolstof en linne.

26. Elke begaafde vrou wat graag wou, het die bokhaar gespin.

27. Al die leiers het oniks en ander edelstene gebring om dit op die skouerkleed en op die borssak te monteer;

28. ook speserye en olie vir die lampe, vir die salfolie en vir die geurige wierook.

29. Elke Israelitiese man en vrou wat vrywillig iets wou bring vir die werk wat die Here vir Moses beveel het om te doen, het dit vir die Here gebring.

Die vakmanne om die tent van ontmoeting te bou

30. Moses het vir die Israeliete gesê: “Kyk, die Here het vir Besaleël uitgekies vir die werk. Hy is 'n seun van Uri, seun van Gur uit die stam Juda.

31. Die Here het hom toegerus met sy Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen:

32. ontwerpe maak en dit in goud, silwer en brons uitwerk,

33. edelstene verwerk en monteer, en houtwerk doen. Hy sal enige werk kan doen.

34. Die Here het vir hom en vir Oholiab, seun van Agisamak uit die stam Dan, die begaafdheid gegee om ander as vakmanne op te lei.

35. Die Here het aan hulle die vaardigheid gegee om al die werk van 'n vakman te verrig: om te ontwerp, om blou, pers en bloedrooi wolstof en linne te borduur, en om te weef. Hierdie manne kan enige werk doen en ontwerpe maak.