Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 5:14-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van 'n klein seuntjie en hy was weer rein.

15. Hy en sy hele gevolg het teruggegaan na die man van God toe. Daar aangekom, het Naäman voor die man van God gaan staan en gesê: “Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel. Aanvaar asseblief hierdie geskenk van my.”

16. Maar Elisa het gesê: “So seker as die Here leef in wie se diens ek is, ek sal dit nie aanvaar nie.”Naäman het by Elisa daarop aangedring om dit te aanvaar, maar hy het bly weier.

17. Toe sê Naäman: “As u dan nie iets wil hê nie, wil u nie asseblief vir my twee muilvragte grond laat kry nie? Daarop wil ek brandoffers en ander diereoffers bring, net aan die Here, nie langer aan enige ander god nie.

18. Daar is net een ding wat die Here my asseblief sal moet vergewe: as my koning na die tempel van Rimmon toe kom om te aanbid, en ek hom moet vergesel, en ek dan in die tempel van Rimmon aanbid wanneer hy daar aanbid, mag die Here my dit vergewe!”

19. Elisa het van Naäman afskeid geneem, maar toe hy 'n ent weg was,

20. het Gehasi, die slaaf van Elisa die man van God, vir homself gesê: “Meneer het hierdie Arameër Naäman laat wegkom sonder om iets te aanvaar van alles wat hy gebring het. So seker as die Here leef, ek gaan agter hom aan hardloop en ek sal iets van hom aanvaar.”

21. Gehasi is agter Naäman aan. Toe Naäman hom agter hom aan sien hardloop, het hy van die wa af afgespring, hom tegemoet gegaan en gevra: “Wat is verkeerd?”

22. “Niks nie,” het hy geantwoord. “Die profeet het my gestuur om te sê: Daar het nou net twee jongmanne van die profetegemeenskap hier aangekom van die Efraimsberge af, en sal u nie asseblief vir hulle vier en dertig kilogram silwer en twee stelle klere gee nie.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 5