Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 3:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Joram seun van Agab het in Samaria koning oor Israel geword in die agtiende regeringsjaar van koning Josafat van Juda. Hy was twaalf jaar lank koning.

2. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, maar nie so erg soos sy pa en ma nie: hy het darem die klippilaar van Baäl wat deur sy pa gemaak is, verwyder.

3. Tog het hy volhard in die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het; hy het dit nie laat vaar nie.

4. Koning Mesa van Moab was 'n skaapboer wat honderd duisend lammers en die wol van honderd duisend ramme aan die koning van Israel moes lewer.

5. Toe Agab dood is, het die koning van Moab teen die koning van Israel gerebelleer.

6. Koning Joram het onmiddellik uit Samaria vertrek en die hele Israel onder die wapen gebring.

7. Hy het aan koning Josafat van Juda die volgende boodskap gestuur: “Die koning van Moab het teen my gerebelleer. Gaan jy hom saam met my aanval?”Josafat het geantwoord: “Ek sal saam met jou opruk. Ek en jy is een. My manskappe is jou manskappe, en my perde is jou perde.”

8. “Met watter pad sal ons opruk?” het Joram gevra.“Met die pad deur die Edomwoestyn,” het Josafat geantwoord.

9. Die koning van Israel, die koning van Juda en die koning van Edom het saam opgetrek. Nadat hulle sewe dae gevorder het, was daar nie meer water vir die manskappe en vir die diere by hulle nie.

10. Toe sê die koning van Israel: “Helaas, die Here het hierdie drie konings geroep net om hulle in die mag van Moab oor te gee.”

11. Maar Josafat het gevra: “Is hier nie 'n profeet van die Here deur wie ons die Here kan raadpleeg nie?”Een van die amptenare van die koning van Israel het geantwoord: “Elisa seun van Safat is hier. Hy het sy opleiding by Elia gekry.”

12. Toe het Josafat gesê: “Die woord van die Here is by Elisa.”Daarna het Josafat en die konings van Israel en Edom na Elisa toe gegaan.

13. Elisa het vir die koning van Israel gesê: “Het ons nog iets vir mekaar te sê? Gaan na die profete van jou pa en jou ma toe.”Maar die koning van Israel het vir hom gesê: “Nee, dit is tog die Here wat hierdie drie konings geroep het net om hulle in die mag van Moab oor te gee.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 3