Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 23:15-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Selfs die altaar in Bet-El, die hoogte wat deur Jerobeam seun van Nebat ingerig is toe hy vir Israel laat sondig het, selfs dié altaar en dié hoogte is deur Josia laat afbreek. Hy het die hoogte laat afbrand en fynslaan en die Asjera laat verbrand.

16. Toe hy omdraai, sien Josia die grafte daar teen die berg. Hy het die bene uit die grafte laat uithaal en hulle op die altaar laat verbrand. So het hy die altaar laat ontwy in ooreenstemming met die woord van die Here wat destyds deur die man van God aangekondig is.

17. Daarna sê Josia: “Watter grafsteen sien ek daar?” en die mense van die stad sê vir hom: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en voorspel het presies wat u met die altaar van Bet-El gedoen het.”

18. Toe sê hy: “Laat hom rus, moenie sy bene versteur nie.” Hulle het toe sy bene en die bene van die profeet wat uit Samaria gekom het, met rus gelaat.

19. Josia het verder al die heiligdomme wat deur die konings van Israel op die hoogtes by die stede van Samaria gebou is om die Here uit te tart, laat opruim. Hy het met hulle gemaak soos hy in Bet-El gedoen het.

20. Al die priesters wat daar op die hoogtes diens gedoen het, het hy op die altare laat slag en mensbene op die altare laat verbrand. Daarna is hy terug Jerusalem toe.

21. Daarna het die koning die volk beveel: “Vier die paasfees tot eer van die Here julle God soos dit voorgeskryf is in hierdie boek van die verbond.”

22. 'n Paasfees soos hierdie is nie gevier van die tyd van die leiers af wat oor Israel geregeer het nie, ook nie tydens die regering van die konings van Israel en Juda nie.

23. Hierdie paasfees tot eer van die Here is in die agtiende regeringsjaar van koning Josia in Jerusalem gevier.

24. Josia het ook die dodebesweerders en die waarsêers, die afgodsbeelde, al die stinkende en veragtelike afgode wat in Juda en Jerusalem te sien was, uitgeroei. So het hy voldoen aan die eise van die wet soos dit opgeteken was in die boek wat die priester Gilkija in die huis van die Here gekry het.

25. Daar was nie voor hom nog so 'n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en siel en met al sy kragte in ooreenstemming met die hele wet van Moses nie, en ná hom was daar ook nie so 'n koning soos hy nie.

26. Die Here het egter nie sy hewige toorn teen Juda laat vaar nie. Hy het toornig gebly oor Manasse se uittartende optrede teen Hom.

27. Hy het gesê: “Ek sal Juda ook uit my teenwoordigheid verwyder, net soos Ek Israel verwyder het. Ek sal hierdie stad, Jerusalem, wat Ek uitverkies het, verwerp, en ook die tempel waarvan Ek gesê het: My Naam sal daar wees.”

28. Die ander verhale oor Josia en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 23