Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:23-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Toe het koning Salomo 'n eed voor die Here afgelê: “Mag God my met die dood straf as Adonia nie met sy lewe hiervoor boet nie!

24. So seker as die Here leef, Hy wat my koning laat word het en my die troon van my pa laat bestyg het, en vir my 'n koningshuis gevestig het soos Hy beloof het, net so seker moet Adonia vandag nog dood!”

25. Koning Salomo het vir Benaja seun van Jojada gestuur en dié het vir Adonia om die lewe gebring.

26. Vir die priester Abjatar het die koning gesê: “Gaan na jou grond toe by Anatot! Jy moes eintlik ook doodgemaak gewees het, maar ek sal jou nie nou doodmaak nie, omdat jy die ark van die Here voor my pa uit gedra het, en omdat jy soveel saam met hom deurgemaak het.”

27. Salomo het vir Abjatar ontslaan, sodat hy nie meer priester van die Here was nie. So het die oordeel wat die Here by Silo oor Eli se nageslag uitgespreek het, in vervulling gegaan.

28. Joab, wat 'n ondersteuner van Adonia was maar nie destyds vir Absalom gesteun het nie, het hiervan te hore gekom. Hy het na die heiligdom van die Here toe gevlug en daar die horings van die altaar vasgegryp.

29. Toe koning Salomo verneem dat Joab na die heiligdom toe gevlug het en daar by die altaar is, het hy vir Benaja seun van Jojada beveel: “Gaan maak hom dood!”

30. Benaja het na die heiligdom toe gegaan en vir hom gesê: “Die koning sê jy moet uitkom!”Maar hy sê: “Nee, ek wil hiér sterf.”Benaja het toe eers aan die koning gaan rapporteer wat Joab gesê het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2