hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 7 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die ongeloof van Jesus se broers

1. Hierna het Jesus in Galilea rondgegaan. In Judea wou Hy dit nie doen nie, omdat die Jode daar Hom wou doodmaak.

2. Maar die huttefees van die Jode was naby.

3. Jesus se broers sê toe vir Hom: “Gaan 'n bietjie hiervandaan na Judea toe dat jou dissipels daar ook die wonderdade kan sien wat jy doen.

4. 'n Mens wat oral bekend wil wees, doen nie iets in die geheim nie. Aangesien jy dan hierdie dinge doen, maak jou openlik aan die wêreld bekend.”

5. Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie.

6. Jesus sê toe vir hulle: “Vir My het die tyd nog nie gekom nie, maar vir julle is enige tyd reg.

7. Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is.

8. Gaan julle maar fees toe. Ek gaan nie na hierdie fees toe nie, omdat die tyd vir My nog nie reg is nie.”

9. Dit het Hy vir hulle gesê, en Hy het daar in Galilea gebly.

Jesus leer die mense by die huttefees

10. Nadat Jesus se broers na die huttefees toe vertrek het, het Hy self tog ook gegaan, nie openlik nie maar onopvallend.

11. Die Jode het toe by die fees na Hom gesoek en gevra: “Waar is hy?”

12. Onder die feesmenigte is daar baie oor Hom gefluister. Party mense het gesê: “Hy is 'n goeie man.” Maar ander het gesê: “Nee, hy mislei die mense.”

13. Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, omdat hulle bang was vir die Jode.

14. Toe die feestyd al halfpad verby was, het Jesus na die tempel toe gegaan en die mense daar geleer.

15. Die Jode was verbaas en het gesê: “Waar kom hy aan die geleerdheid? Hy het dan geen opleiding gehad nie!”

16. Jesus het vir hulle gesê: “Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het.

17. As iemand gewillig is om die wil van God te doen, sal hy weet of hierdie leer van God af kom, en of Ek uit my eie praat.

18. Wie uit sy eie praat, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het, is geloofwaardig, en daar is niks oneerliks in Hom nie.

19. Het Moses nie die wet vir julle gegee nie? En tog hou nie een van julle die wet nie. Waarom wil julle My dan doodmaak?”

20. “Jy is van die duiwel besete!” het die mense uitgeroep. “Wie wil jou doodmaak?”

21. Jesus het toe verder vir hulle gesê: “Julle is almal ontsteld oor een ding wat Ek gedoen het.

22. Omdat Moses die besnydenis vir julle gegee het — en eintlik kom dit nie eens van Moses af nie, maar van die aartsvaders — besny julle ook op 'n sabbatdag.

23. As iemand op 'n sabbatdag die besnydenis mag ontvang om nie die wet van Moses te verbreek nie, waarom is julle dan vir My kwaad omdat Ek op 'n sabbatdag iemand se hele liggaam gesond gemaak het?

24. Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.”

Jesus is die Christus

25. Intussen het party van die inwoners van Jerusalem gesê: “Is dit nie die man vir wie hulle wil doodmaak nie?

26. En hier praat hy nou in die openbaar, en hulle sê niks teen hom nie. Het die lede van die Joodse Raad miskien werklik tot die oortuiging gekom dat hy die Christus is?

27. Ons weet tog waar hierdie man vandaan kom; maar wanneer die Christus kom, sal niemand weet waar Hý vandaan kom nie.”

28. Terwyl Jesus die mense in die tempel leer, het Hy uitgeroep: “Ja, julle ken My, en julle weet ook waar Ek vandaan kom. En tog het Ek nie uit my eie gekom nie, maar dit is die ware God wat My gestuur het, en vir Hom ken julle nie.

29. Ek ken Hom, omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.”

30. Hulle wou Hom toe gevange neem, en tog het niemand dit gedoen nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie.

31. Maar baie van die mense het tot geloof in Hom gekom en het gesê: “Wanneer die Christus kom, sal Hy tog seker nie meer wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie?”

Jesus sê dat Hy weggaan

32. Die Fariseërs het gehoor wat die mense oor Hom fluister, en hulle en die priesterhoofde het wagte gestuur om Hom gevange te neem.

33. Jesus sê toe: “Nog net 'n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek terug na Hom toe wat My gestuur het.

34. Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie.”

35. Toe sê die Jode vir mekaar: “Waarheen sou hy van plan wees om te gaan dat ons hom nie sal kry nie? Hy is tog nie van plan om na die Griekssprekende Jode in die buiteland te gaan en die Grieke daar te leer nie?

36. Wat bedoel hy met die woorde: Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie?”

Strome lewende water

37. Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!

38. Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”

39. Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.

Meningsverskil oor Jesus

40. Party van die mense wat hierdie woorde gehoor het, het gesê: “Hy is werklik die Profeet.”

41. Party het gesê: “Hy is die Christus.”Maar party het gesê: “Die Christus kom tog nie uit Galilea nie?

42. Die Skrif sê mos die Christus kom uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was.”

43. Daar het toe verdeeldheid oor Hom onder die mense gekom.

44. Party van hulle wou Hom gevange neem, maar niemand het dit gedoen nie.

Die ongeloof van die Joodse leiers

45. Daarna het die wagte na die priesterhoofde en die Fariseërs toe teruggegaan, en dié het vir hulle gevra:“Waarom het julle hom nie gebring nie?”

46. Die wagte het geantwoord: “Nog nooit het iemand gepraat soos hierdie man nie.”

47. Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Is julle tog nie ook mislei nie?

48. Het een van die lede van die Joodse Raad miskien in hom geglo, of een van die Fariseërs?

49. Nee, dit is net hierdie vervloekte klomp mense wat nie ons wet ken nie!”

50. Nikodemus, wat voorheen na Jesus toe gekom het en wat een van hulle was, sê toe vir hulle:

51. “Volgens ons wet kan ons mos nie sommer iemand veroordeel sonder om eers sy kant van die saak te hoor en vas te stel wat hy doen nie.”

52. Hulle sê toe vir hom: “Jy kom tog nie ook van Galilea af nie? Ondersoek die Skrif en jy sal sien dat God niemand wat uit Galilea kom, as profeet roep nie.”

Die vrou wat op owerspel betrap is

53. Hierna is hulle elkeen na sy huis toe,