hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 6 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die vermeerdering van die brood

1. Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea toe gegaan, wat ook die See van Tiberias genoem word.

2. 'n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het.

3. Jesus het toe teen die berg opgegaan en met sy dissipels daar gaan sit.

4. Die paasfees van die Jode was naby.

5. Toe Jesus rondkyk en sien dat 'n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?”

6. Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen.

7. Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle 'n stukkie brood te laat kry nie.”

8. 'n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom:

9. “Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?”

10. Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.”Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend.

11. Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê.

12. Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”

13. Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.

14. Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

15. Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.

Jesus loop op die see

16. Toe dit aand word, het Jesus se dissipels na die see toe gegaan,

17. in 'n skuit geklim en weggevaar na Kapernaum toe, oorkant die see. Dit was al donker en Jesus was nog steeds nie by hulle terug nie.

18. Daarby het die see onstuimig geword, omdat daar 'n sterk wind gewaai het.

19. Toe hulle sowat vyf of ses kilometer geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom, en hulle het bang geword.

20. Maar Hy sê vir hulle: “Dit is Ek; moenie bang wees nie.”

21. Hulle was toe gewillig om Hom in die skuit te neem, en daarna het die skuit by die land aangekom waarheen hulle op pad was.

Die brood uit die hemel

22. Die mense wat oorkant die see was, het gesien dat daar net een skuitjie is en geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit geklim het nie, maar dat hulle alleen weggevaar het. Die volgende dag

23. kom daar toe ander skuitjies van Tiberias af aan naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat die Here daarvoor gedank het.

24. Toe die mense sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle in die skuitjies geklim en na Kapernaum toe gevaar op soek na Jesus.

25. En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?”

26. Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.

27. Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

28. Hulle vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”

29. En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”

30. Hulle sê toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen?

31. Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.”

32. Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee.

33. Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”

34. Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.”

35. Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

36. Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.

37. “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.

38. Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.

39. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan.

40. Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”

Die Jode verstaan nie Jesus se woorde nie

41. Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.”

42. Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?”

43. Jesus sê toe vir hulle: “Moenie so onder mekaar mor nie.

44. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.

45. By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe.

46. Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien.

47. “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.

48. Ek is die brood wat lewe gee.

49. Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe.

50. Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat 'n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie.

51. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

52. Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?”

53. Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie.

54. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.

55. My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank.

56. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.

57. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.

58. Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe.”

59. Dit het Jesus gesê toe Hy die mense in die sinagoge in Kapernaum geleer het.

Ongeloof en geloof onder die dissipels van Jesus

60. Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê: “Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?”

61. Jesus het vanself geweet dat sy dissipels hieroor mor, en Hy sê vir hulle: “Skrik dit julle af?

62. Wat dan nog as julle die Seun van die mens sien opvaar na waar Hy voorheen was?

63. Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe.

64. Maar daar is party van julle wat nie in My glo nie.”Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou verraai.

65. Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”

66. Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie.

67. Toe vra Jesus vir die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?”

68. Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee.

69. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”

70. Jesus het daarop vir hulle gesê: “Het Ek nie self julle twaalf uitgekies nie? En een van julle is 'n duiwel!”

71. Hy het Judas die seun van Simon Iskariot bedoel, want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was.