hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 2 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die bruilof in Kana

1. Op die derde dag was daar 'n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar.

2. Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi.

3. Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.”

4. Maar Hy sê vir haar: “Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie.”

5. Sy moeder sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.”

6. Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou.

7. Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water.”Hulle het dit tot bo toe volgemaak.

8. Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.”Hulle het dit gedoen.

9. Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom

10. en sê vir hom: “'n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.”

11. Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.

12. Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar gebly nie.

Die reiniging van die tempel

13. Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan.

14. Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit.

15. Toe het Hy met toutjies 'n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer.

16. Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader 'n besigheidsplek maak nie.”

17. Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.”

18. Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?”

19. Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.”

20. Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?”

21. Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel.

22. Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.

Jesus ken die mens

23. Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen.

24. Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is.

25. Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van 'n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is.