hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 9 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus genees 'n man wat blind gebore is

1. Terwyl Jesus wegstap, sien Hy 'n man wat van sy geboorte af blind was.

2. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s'n?”

3. En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s'n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.

4. So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie.

5. Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”

6. Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg 'n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë

7. en sê vir hom: “Gaan was jou in die Siloambad.” Siloam beteken die een wat gestuur is.Hy het gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien.

8. Sy bure en die ander mense wat hom voorheen as bedelaar geken het, sê toe: “Maar is dit dan nie die man wat gesit en bedel het nie?”

9. Party van hulle het gesê: “Dit is hy!”Maar party het gesê: “Nee, hy lyk maar net soos daardie man.”“Dit is ek!” het hy self gesê.

10. Hulle vra toe vir hom: “Maar hoe het jou oë dan reg gekom?”

11. En hy antwoord: “Die man met die naam Jesus het 'n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!”

12. “Waar is hy nou?” vra hulle hom toe.“Ek weet nie,” was sy antwoord.

Die Fariseërs ondervra die man en sy ouers

13. Daarna het die mense die man wat eers blind was, na die Fariseërs toe gebring.

14. Dit was op 'n sabbatdag dat Jesus die klei aangemaak en die man se oë genees het.

15. Die Fariseërs het hom ook weer gevra hoe dit gekom het dat hy kan sien. Hy het hulle geantwoord: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gewas, en nou sien ek.”

16. Party van die Fariseërs sê toe: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die sabbatdag nie.”Maar van die ander het gesê: “Hoe kan iemand wat 'n sondaar is, sulke wondertekens doen?”En daar was verdeeldheid onder hulle.

17. Hulle sê toe weer vir die man wat blind was: “Wat sê jý van hom? Hy het mos jou oë genees.”“Hy is 'n profeet,” het hy geantwoord.

18. Die Jode het nie geglo dat die man blind was en nou kon sien nie, totdat hulle sy ouers geroep

19. en vir hulle gevra het: “Is dit julle seun van wie julle beweer dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?”

20. “Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,” het sy ouers geantwoord.

21. “Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë genees het, weet ons ook nie. Vra hom self. Hy is oud genoeg; hy kan vir homself praat.”

22. Sy ouers het dit gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het toe al klaar met mekaar afgespreek dat iemand wat openlik verklaar dat Jesus die Christus is, uit die sinagoge geban sal word.

23. Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg; vra hom self.”

Die man word uitgeban

24. Die Jode het toe die tweede keer die man wat blind was, geroep en vir hom gesê: “Praat die waarheid voor God; ons weet mos hierdie man is 'n sondaar.”

25. Daarop het hy gesê: “Of hy 'n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.”

26. Hulle sê toe vir hom: “Wat het hy met jou gemaak? Hoe het hy jou oë genees?”

27. “Ek het julle mos al vertel, en julle het nie geluister nie,” antwoord hy. “Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook dissipels van hom word nie?”

28. Toe skel hulle hom uit en sê: “Jý is 'n dissipel van hom. Óns is dissipels van Moses.

29. Ons weet dat God met Moses gepraat het; maar hierdie man — ons weet nie waar hy vandaan kom nie.”

30. “Dis darem snaaks,” sê hy daarop vir hulle. “Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees.

31. Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom.

32. Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie.

33. As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.”

34. Hulle sê toe vir hom: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?”En hulle het hom uitgeban.

Geestelike blindheid

35. Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?”

36. Hy het geantwoord: “Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?”

37. Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.”

38. Die man sê toe: “Ek glo, Here!”En hy het Hom aanbid.

39. Toe sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op 'n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.”

40. Party Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Ons is mos nie blind nie!”

41. Jesus antwoord hulle: “As julle blind was, sou julle nie skuldig gewees het nie; maar nou sê julle: ‘Ons sien.’ Daarom bly julle skuldig.”