hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 6 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ouers en kinders

1. Kinders, wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van God vereis.

2. “Eer jou vader en jou moeder” is 'n baie belangrike gebod. En daar is nog 'n belofte by:

3. “sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.”

4. En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.

Eienaars en slawe

5. Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag maar terselfdertyd met 'n opregte hart, asof dit vir Christus is.

6. Moenie net werk om deur julle eienaars raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie; werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen.

7. Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie.

8. Julle weet tog dat die Here elkeen sal beloon as hy iets goeds gedoen het, of hy nou slaaf is of vry.

9. En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid. Hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hulle Here en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie.

Die Christen se wapenrusting

10. Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.

11. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.

12. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.

13. Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.

14. Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas,

15. en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete.

16. Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer.

17. Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.

18. Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

19. Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak.

20. Ter wille van hierdie evangelie is ek 'n gesant in boeie. Bid dat ek dit met vrymoedigheid kan verkondig soos dit my opgelê is.

Slotwoord

21. Tigikus, die medegelowige wat ek baie lief het, die getroue dienaar in diens van die Here, sal julle alles vertel, sodat julle ook kan weet hoe dit met my gaan en wat ek doen.

22. Ek stuur hom juis hiervoor na julle toe, sodat julle kan hoor hoe dit hier by ons gaan en, sodat hy die kommer in julle gemoed kan wegneem.

23. Vrede vir die broers, en liefde en geloof, van God die Vader en die Here Jesus Christus!

24. Die genade sal by almal wees wat vir ons Here Jesus Christus met onverganklike liefde liefhet.