hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 4 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die eenheid van die kerk

1. Ek druk julle dit op die hart, ek wat 'n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.

2. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.

3. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.

4. Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het.

5. Daar is net één Here, één geloof, één doop,

6. één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.

7. Aan elkeen van ons is 'n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het.

8. Daarom sê die Skrif:“Toe Hy na die hoogte opgevaar het,het Hy krygsgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.”

9. Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar” veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe.

10. Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.

11. En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars.

12. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.

13. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.

14. Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.

15. Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof,

16. en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

Die ou en die nuwe lewe

17. In die Naam van die Here doen ek 'n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks,

18. hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.

19. Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met 'n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.

20. Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie.

21. Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is.

22. Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.

23. Julle gees en gedagtes moet nuut word;

24. lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.

Riglyne vir die nuwe lewe

25. Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam.

26. As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad afsluit nie.

27. Moenie die duiwel vatkans gee nie.

28. As iemand 'n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op 'n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee.

29. Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.

30. En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.

31. Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie.

32. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.