hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 2 Afrikaans 1983 (AFR83)

Lewe uit die dood

1. Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes

2. wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

3. So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word.

4. Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief.

5. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!

6. Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee,

7. sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

8. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God.

9. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.

10. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Een nuwe mensheid

11. Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is “onbesnedenes” genoem deur dié wat hulleself “die besnedenes” noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam.

12. In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

13. Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus.

14. Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos 'n muur skeiding gemaak het.

15. Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig.

16. Deur sy dood aan die kruis het Hy 'n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig.

17. Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was.

18. Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.

19. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.

20. Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.

21. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here,

22. in wie julle ook saam opgebou word as 'n geestelike huis waarin God woon.