Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 7:2-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Daniël het gespreek en gesê: Ek het in die nag in my gesig gesien, en kyk, die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring;

3. en vier groot diere het uit die see opgeklim, die een verskillend van die ander.

4. Die eerste was soos ’n leeu, en hy het vlerke van ’n arend gehad; ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgeruk is en dit van die grond af opgehef en soos ’n mens op twee voete neergesit is en daaraan ’n mensehart gegee is.

5. En kyk, ’n ander dier, ’n tweede, het gelyk soos ’n beer, en is aan die een kant opgerig; en drie ribbes was in sy bek tussen sy tande; en só het hulle vir hom gesê: Staan op, eet baie vleis.

6. Daarna het ek gesien, en kyk, daar was ’n ander een soos ’n luiperd, en dit het vier vlerke van ’n voël op sy rug gehad; ook het die dier vier koppe gehad, en aan hom is heerskappy gegee.

7. Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was ’n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad.

8. Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ’n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en ’n mond wat groot dinge spreek.

9. Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en ’n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ’n brandende vuur;

10. ’n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende het Hom gedien, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen.

11. Ek het toe bly kyk vanweë die stem van die groot woorde wat die horing gespreek het; ek het bly kyk totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en aan die verbranding deur vuur oorgegee is.

12. Ook aan die ander diere is hulle heerskappy ontneem, en verlenging van die lewe is aan hulle gegee tot op tyd en uur.

13. Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom.

14. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.

15. Die gees van my, Daniël, is in sy omhulsel verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik.

16. Ek het nader gekom na een van die wat daar gestaan het, en van hom sekerheid gevra oor dit alles; en hy het dit vir my gesê en die uitlegging van die dinge aan my bekend gemaak:

17. Hierdie groot diere wat vier is — vier konings sal uit die aarde opstaan;

Lees volledige hoofstuk Daniël 7