Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 23:13-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. En die hoogtes wat oos van Jerusalem was, suid van die Berg van Bederf, wat Salomo, die koning van Israel, gebou het vir Astárte, die verfoeisel van die Sidoniërs, en vir Kamos, die verfoeisel van die Moabiete, en vir Milkom, die gruwel van die kinders van Ammon, het die koning verontreinig.

14. Hy het ook die klippilare stukkend gebreek en die heilige boomstamme omgekap en hulle plek met mensbene opgevul.

15. En ook die altaar wat in Bet-el was, die hoogte wat Jeróbeam, die seun van Nebat, gebou het, wat Israel laat sondig het, ook daardie altaar en die hoogte het hy afgebreek en die hoogte verbrand; hy het dit tot stof vermaal en die heilige boomstam verbrand.

16. En toe Josía hom omdraai, sien hy die grafte wat daar op die berg was; en hy het die bene uit die grafte laat haal en op die altaar verbrand en dit verontreinig, volgens die woord van die Here wat verkondig is deur die man van God wat hierdie woorde uitgeroep het.

17. Toe sê hy: Wat is dit vir ’n grafsteen wat ek daar sien? En die manne van die stad antwoord hom: Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en hierdie dinge uitgeroep het wat teen die altaar van Bet-el gedoen het.

18. Daarop sê hy: Laat hom met rus, laat niemand sy bene verroer nie. En hulle het sy bene met die bene van die profeet wat uit Samaría gekom het, met rus gelaat.

19. En ook al die tempels van die hoogtes wat in die stede van Samaría was, wat die konings van Israel gebou het om die Here te terg, het Josía afgeskaf en daarmee gehandel ooreenkomstig alles wat hy in Bet-el gedoen het.

20. En al die priesters van die hoogtes wat daar was, het hy op die altare geslag en mensbene daarop verbrand en na Jerusalem teruggegaan.

21. Toe gee die koning die hele volk bevel en sê: Hou pasga vir die Here julle God soos geskrywe is in hierdie verbondsboek.

22. Want soos hierdie pasga is daar nie een gehou van die dae van die Rigters af wat Israel gerig het, en gedurende al die dae van die konings van Israel en die konings van Juda nie;

23. maar in die agttiende jaar van koning Josía is hierdie pasga vir die Here in Jerusalem gehou.

24. Ook het Josía die dodebesweerders en die waarsêers en die huisgode en die drekgode en al die verfoeisels wat in die land van Juda en in Jerusalem te sien was, uitgeroei, om die woorde van die wet te bevestig wat geskrywe is in die boek wat die priester Hilkía in die huis van die Here gekry het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 23