Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:14-33 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Maar Miga sê: So waar as die Here leef, voorwaar, wat die Here vir my sê, dit sal ek spreek!

15. Toe hy by die koning kom, sê die koning vir hom: Miga, sal ons na Ramot in Gílead trek om te veg, of sal ons dit laat staan? En hy antwoord hom: Trek op, en u sal voorspoedig wees, en die Here sal dit in die hand van die koning gee.

16. En die koning sê vir hom: Hoeveel maal moet ek jou besweer dat jy niks as die waarheid in die Naam van die Here tot my moet spreek nie?

17. Daarop antwoord hy: Ek het die hele Israel gesien, verstrooid op die berge soos skape wat geen wagter het nie. En die Here het gesê: Hulle het geen heer nie; laat hulle elkeen in vrede teruggaan na sy huis.

18. Toe sê die koning van Israel vir Jósafat: Het ek u nie gesê nie — hy profeteer oor my niks goeds nie, maar onheil?

19. Verder sê hy: Daarom, hoor die woord van die Here: Ek het die Here sien sit op sy troon terwyl al die hemelse leërskare by Hom staan, aan sy regter- en aan sy linkerhand.

20. En die Here het gesê: Wie sal Agab oorhaal, dat hy kan optrek en val by Ramot in Gílead? En die een het so gesê, en die ander weer so.

21. Toe kom die gees vorentoe en gaan voor die aangesig van die Here staan en sê: Ek sal hom oorhaal. En die Here vra hom: Waarmee?

22. En hy sê: Ek sal uitgaan en ’n leuengees word in die mond van al sy profete. En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so.

23. En nou, kyk, die Here het ’n leuengees in die mond van al hierdie profete van u gegee, en die Here het onheil oor u gespreek.

24. Daarop kom Sedekía, die seun van Kenáäna, nader en hy slaan Miga op die kakebeen en sê: Hoe dan het die Gees van die Here van my af weggegaan om met jou te spreek?

25. En Miga antwoord: Kyk, jy sal dit sien op dieselfde dag as jy van kamer tot kamer sal gaan om jou weg te steek.

26. Maar die koning van Israel sê: Neem Miga en bring hom terug by Amon, die owerste van die stad, en by Joas, die seun van die koning.

27. En jy moet sê: So spreek die koning: Sit hierdie man in die gevangenis en spysig hom met brood van verdrukking en water van verdrukking totdat ek behoue tuiskom.

28. Daarop sê Miga: As u ooit behoue tuiskom, dan het die Here nie deur my gespreek nie. Verder sê hy: Volke, luister almal saam!

29. En die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, het opgetrek na Ramot in Gílead.

30. En die koning van Israel het vir Jósafat gesê: Ek sal my onkenbaar maak en in die geveg kom; trek ú maar u eie klere aan. So het die koning van Israel hom dan onkenbaar gemaak en in die geveg gegaan.

31. En die koning van Aram het aan die owerstes van sy twee-en-dertig strydwaens bevel gegee en gesê: Julle moet nie klein of groot beveg nie, net die koning van Israel alleen.

32. En sodra die owerstes van die waens Jósafat sien, sê hulle: Dit is sekerlik die koning van Israel! En hulle het weggeswaai om teen hom te veg; maar Jósafat het geskreeu.

33. En toe die owerstes van die waens sien dat dit nie die koning van Israel was nie, draai hulle agter hom weg.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22