hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

Agab sluit ’n verbond met Jósafat, die koning van Juda. Hy verwerp die raad van Miga en kom om in die oorlog.

1. HULLE het toe drie jaar lank stil gesit, dat daar geen oorlog was tussen Aram en Israel nie.

2. Maar in die derde jaar het Jósafat, die koning van Juda, afgekom na die koning van Israel.

3. En die koning van Israel vra sy dienaars: Weet julle dat Ramot in Gílead aan ons behoort? En ons sit stil sonder om dit uit die hand van die koning van Aram te neem!

4. Daarna sê hy vir Jósafat: Sal u saam met my in die oorlog trek na Ramot in Gílead? En Jósafat antwoord die koning van Israel: Ek is soos u, my volk soos u volk, my perde soos u perde.

5. Verder het Jósafat aan die koning van Israel gesê: Raadpleeg tog eers die woord van die Here.

6. Toe laat die koning van Israel die profete bymekaarkom, omtrent vierhonderd man, en hy sê aan hulle: Sal ek teen Ramot in Gílead trek om te veg of dit laat staan? En hulle antwoord: Trek op, en die Here sal dit in die hand van die koning gee.

7. Maar Jósafat sê: Is hier nie nog ’n profeet van die Here, dat ons deur hom kan raadpleeg nie?

8. En die koning van Israel antwoord Jósafat: Daar is nog een man om deur hom die Here te raadpleeg; maar ék haat hom, omdat hy oor my niks goeds profeteer nie, maar onheil: Miga, die seun van Jimla. En Jósafat sê: Die koning moet nie so spreek nie!

9. Daarop roep die koning van Israel ’n hofdienaar en sê: Gaan haal Miga gou, die seun van Jimla.

10. Onderwyl die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, elkeen op sy troon sit, bekleed met koninklike klere, op ’n dorsvloer by die ingang van die poort van Samaría, en al die profete voor hulle profeteer,

11. het Sedekía, die seun van Kenáäna, vir hom ysterhorings gemaak en gesê: So spreek die Here: Hiermee sal u die Arameërs stoot totdat hulle vernietig is.

12. En al die profete het so geprofeteer en gesê: Trek op na Ramot in Gílead en u sal voorspoedig wees, en die Here sal dit in die hand van die koning gee.

13. Toe sê die boodskapper wat gegaan het om Miga te roep, vir hom dít: Kyk tog, die woorde van die profete is uit een mond goed vir die koning: laat jou woord tog wees soos die woord van een van hulle, en spreek goeie dinge.

14. Maar Miga sê: So waar as die Here leef, voorwaar, wat die Here vir my sê, dit sal ek spreek!

15. Toe hy by die koning kom, sê die koning vir hom: Miga, sal ons na Ramot in Gílead trek om te veg, of sal ons dit laat staan? En hy antwoord hom: Trek op, en u sal voorspoedig wees, en die Here sal dit in die hand van die koning gee.

16. En die koning sê vir hom: Hoeveel maal moet ek jou besweer dat jy niks as die waarheid in die Naam van die Here tot my moet spreek nie?

17. Daarop antwoord hy: Ek het die hele Israel gesien, verstrooid op die berge soos skape wat geen wagter het nie. En die Here het gesê: Hulle het geen heer nie; laat hulle elkeen in vrede teruggaan na sy huis.

18. Toe sê die koning van Israel vir Jósafat: Het ek u nie gesê nie — hy profeteer oor my niks goeds nie, maar onheil?

19. Verder sê hy: Daarom, hoor die woord van die Here: Ek het die Here sien sit op sy troon terwyl al die hemelse leërskare by Hom staan, aan sy regter- en aan sy linkerhand.

20. En die Here het gesê: Wie sal Agab oorhaal, dat hy kan optrek en val by Ramot in Gílead? En die een het so gesê, en die ander weer so.

21. Toe kom die gees vorentoe en gaan voor die aangesig van die Here staan en sê: Ek sal hom oorhaal. En die Here vra hom: Waarmee?

22. En hy sê: Ek sal uitgaan en ’n leuengees word in die mond van al sy profete. En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so.

23. En nou, kyk, die Here het ’n leuengees in die mond van al hierdie profete van u gegee, en die Here het onheil oor u gespreek.

24. Daarop kom Sedekía, die seun van Kenáäna, nader en hy slaan Miga op die kakebeen en sê: Hoe dan het die Gees van die Here van my af weggegaan om met jou te spreek?

25. En Miga antwoord: Kyk, jy sal dit sien op dieselfde dag as jy van kamer tot kamer sal gaan om jou weg te steek.

26. Maar die koning van Israel sê: Neem Miga en bring hom terug by Amon, die owerste van die stad, en by Joas, die seun van die koning.

27. En jy moet sê: So spreek die koning: Sit hierdie man in die gevangenis en spysig hom met brood van verdrukking en water van verdrukking totdat ek behoue tuiskom.

28. Daarop sê Miga: As u ooit behoue tuiskom, dan het die Here nie deur my gespreek nie. Verder sê hy: Volke, luister almal saam!

29. En die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, het opgetrek na Ramot in Gílead.

30. En die koning van Israel het vir Jósafat gesê: Ek sal my onkenbaar maak en in die geveg kom; trek ú maar u eie klere aan. So het die koning van Israel hom dan onkenbaar gemaak en in die geveg gegaan.

31. En die koning van Aram het aan die owerstes van sy twee-en-dertig strydwaens bevel gegee en gesê: Julle moet nie klein of groot beveg nie, net die koning van Israel alleen.

32. En sodra die owerstes van die waens Jósafat sien, sê hulle: Dit is sekerlik die koning van Israel! En hulle het weggeswaai om teen hom te veg; maar Jósafat het geskreeu.

33. En toe die owerstes van die waens sien dat dit nie die koning van Israel was nie, draai hulle agter hom weg.

34. Toe het ’n man in sy eenvoudigheid die boog gespan en die koning van Israel getref tussen die aanhegsels en die pantser. Daarop sê hy aan sy drywer: Ruk om en bring my uit die leër uit, want ek is gewond.

35. En die geveg het dié dag toegeneem, terwyl die koning hom staande hou in die strydwa teenoor die Arameërs; maar in die aand het hy gesterwe, en die bloed van die wond het in die wa se bak gevloei.

36. En teen sonsondergang gaan ’n geskreeu deur die leër: Elkeen na sy stad en elkeen na sy land toe!

37. En die koning het dood in Samaría aangekom, en die koning is in Samaría begrawe.

38. En toe hulle die wa uitspoel by die dam van Samaría, het die honde sy bloed gelek (terwyl die hoere hulle daarin was), volgens die woord van die Here wat Hy gespreek het.

39. En die verdere geskiedenis van Agab en alles wat hy gedoen het, en die ivoorhuis wat hy gebou het, en al die stede wat hy gebou het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?

40. En Agab het ontslaap met sy vaders, en sy seun Ahásia het in sy plek koning geword.

Jósafat koning van Juda en Ahásia koning van Israel.

41. EN Jósafat, die seun van Asa, het koning geword oor Juda in die vierde jaar van Agab, die koning van Israel.

42. Jósafat was vyf-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf-en-twintig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Asúba, die dogter van Silhi.

43. En hy het geheel en al in die weg van sy vader Asa gewandel — daarvan het hy nie afgewyk nie — deur te doen wat reg was in die oë van die Here.

44. Net die hoogtes is nie afgeskaf nie; die volk het nog op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan.

45. En Jósafat het vrede gesluit met die koning van Israel.

46. En die verdere geskiedenis van Jósafat en sy magtige dade wat hy gedoen het, en hoe hy oorlog gevoer het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?

47. Ook die skandseuns wat uit die dae van sy vader Asa nog oor was, het hy uit die land uitgeroei.

48. Daar was toe nie ’n koning in Edom nie; ’n plaasvervanger was regeerder.

49. Jósafat het Tarsis-skepe gebou om in Ofir goud te gaan haal; maar hulle het nie gegaan nie, want die skepe het in Éseon-Geber skipbreuk gely.

50. Toe sê Ahásia, die seun van Agab, vir Jósafat: Laat my dienaars saam met u dienaars op die skepe gaan. Maar Jósafat wou nie.

51. En Jósafat het ontslaap met sy vaders en is by sy vaders begrawe in die stad van sy vader Dawid; en sy seun Joram het koning geword in sy plek.

52. Ahásia, die seun van Agab, het koning geword oor Israel in Samaría in die sewentiende jaar van Jósafat, die koning van Juda, en het twee jaar oor Israel geregeer.

53. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here — hy het gewandel in die weg van sy vader en in die weg van sy moeder en in die weg van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het.

54. En hy het Baäl gedien en voor hom neergebuig en die Here, die God van Israel, geterg, net soos sy vader gedoen het.