Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 4:6-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. “In so ’n geval wil ek nie as losser optree nie,” antwoord die naaste losser, “want dit kan my eie erfporsie in gevaar stel. Jy kan gerus as losser optree, want ek wil nie.”

7. Destyds was dit die gebruik in Israel by die lossingproses of die oordrag van eiendomsregte dat die transaksie soos volg bevestig word: Die een wat sy regte aan iemand anders oordra, moet ook sy skoen uittrek en dit vir die ander party gee. Dit het die transaksie bekragtig.

8. Die ander losser trek toe sy skoen uit en sê vir Boas: “Jy kan dit koop.”

9. Toe sê Boas vir die leiers en die mense om hulle: “Julle is getuie dat ek vandag Elimelek, Kiljon en Maglon se eiendom by Naomi loskoop.

10. “Saam met die landerye verkry ek ook vir Rut, die Moabitiese weduwee van Maglon, as my vrou. Op hierdie manier sal die grond in die naam van die familie bly. So sal die naam van die gestorwene nie onder sy broers en uit die poort van sy woonplek uitgewis word nie. Julle is vandag almal getuie daarvan.”

11. Toe sê die leiers en almal wat daar staan: “Ons is getuie. Mag die Here die vrou wat nou in jou huis inkom, maak soos Ragel en Lea, van wie die hele volk afgestam het. Mag jy aansien in Efrata en beroemdheid in Betlehem verwerf.

12. “Mag die Here deur hierdie vrou vir jou afstammelinge gee wat sal wees soos ons stamvader Peres, die seun van Tamar en Juda.”

13. Boas het toe met Rut getrou. Sy het sy vrou geword. Hy het by haar geslaap en die Here het haar laat swanger word. Sy het geboorte gegee aan ’n seun.

14. Toe sê die vroue van die dorp vir Naomi: “Prys die Here wat vandag vir jou ’n losser gegee het. Mag hy beroemd word in Israel.

15. Mag hierdie kind vir jou vreugde bring en vir jou sorg in jou ouderdom. Want hy is die seun van jou skoondogter wat vir jou so lief is en wat vir jou meer beteken as sewe seuns!”

16. Naomi het die seuntjie op haar skoot getel en hom as haar eie kind beskou.

Lees volledige hoofstuk Rut 4