Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 8:20-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Gideon het toe vir sy oudste seun Jeter geroep: “Kom hier, kom maak hulle dood!” Die seun wou egter nie sy swaard uittrek nie. Hy was bang omdat hy nog maar ’n seun was.

21. Sebag en Salmunna spot toe vir Gideon: “Jy moet ons maar self doodmaak. Soos ’n man is, so is sy krag.” Gideon het opgestaan en vir Sebag en Salmunna doodgemaak. Hy het die kettinkies aan hulle kamele se nekke vir hom gevat.

22. Die Israeliete het toe vir Gideon kom sê: “Jy en jou nageslag moet as konings oor ons regeer. Jy het ons van Midian bevry.”

23. Maar hy het vir hulle gesê: “Nie ek of my seun sal oor julle regeer nie. Die Here self is julle koning.”

24. Gideon het egter gesê: “Daar is tog een ding wat ek van julle wil vra: Laat elkeen van julle asseblief vir my ’n oorring gee uit die buit wat hy gemaak het.” Die vyand het goue oorringe gedra, want hulle was Ismaeliete.

25. “Ons gee dit met graagte vir jou,” het hulle geantwoord. Hulle het ’n mantel oopgegooi. Elkeen het uit sy buit ’n oorring daarin gegooi.

26. Die goue oorringe wat Gideon gekry het, het negentien en ’n half kilogram geweeg. Dit het nie die halfmaantjies, hangertjies, klere van die Midianitiese konings en die kettinkies rondom die kamele se nekke ingesluit nie.

27. Van die goud het Gideon ’n efodbeeld gemaak. Hy het dit opgesit in sy tuisdorp Ofra. Die hele Israel het afvallig geword, want hulle het die beeld daar kom aanbid. Dit het vir Gideon en sy mense ’n valstrik geword.

28. So is die Midianiete aan Israel onderwerp. Hulle het nooit weer herstel nie. In Gideon se tyd was daar vir 40 jaar lank vrede in die land.

29. Jerubbaäl, die seun van Joas, het ná die oorlog teen Midian teruggegaan na sy huis toe.

30. Hy het 70 seuns by sy baie vroue gehad.

31. Sy byvrou in Sigem het ook vir hom ’n seun gegee. Sy naam was Abimelek.

32. Gideon, die seun van Joas, het ’n hoë ouderdom behaal. Hy is dood en in Ofra in die graf van sy pa, Joas die Abiësriet, begrawe.

33. Gideon was skaars dood of die Israeliete het weer na die Baäls toe teruggegaan. Hulle het Baäl-Berit hulle god gemaak.

34. Hulle het die Here hulle God, wat hulle uit die mag van al hulle vyande rondom hulle gered het, net so gelos.

35. Hulle het nie lojaal gebly aan die gesin van Jerubbaäl – dit is nou Gideon – nie, ten spyte van al die goeie dinge wat hy vir Israel gedoen het.

Lees volledige hoofstuk Rigters 8