Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1:14-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Nadat sy met hom getrou het, het sy Otniël aangehits om vir haar pa meer grond te vra. Toe sy by hom kom en van haar donkie afklim, het Kaleb vir haar gevra: “Wat is dit?”

15. Sy sê vir hom: “Seën my tog asseblief nog meer. U het vir my grond in die droë Negevwoestyn gegee. Gee tog vir my ook plek wat water het.” Kaleb het toe vir haar plekke met fonteine in sowel die hoër as die laerliggende dele gegee.

16. Die Keniete was afstammelinge van Moses se skoonpa. Hulle het saam met die mense van Juda uit die Palmstad na die Judawoestyn toe getrek. Hulle het by die mense van die land daar in die woestyn naby Arad gaan bly.

17. Juda en Simeon het saam teen die Kanaäniete wat in Sefat bly, gaan veg. Hulle het die stad totaal verwoes en dit Gorma genoem.

18. Juda het ook nog Gasa, Askelon en Ekron met hulle omliggende gebiede aangeval.

19. Die Here was by Juda. Hulle het die heuwelgebiede ingeneem. Hulle kon egter nie die inwoners van die vlakte oorrompel nie, want hulle het ysterstrydwaens gehad.

20. Kaleb het Hebron gekry, soos Moses bepaal het, en het die drie groepe Enakiete daar uit Hebron verdryf.

21. Die Jebusiete het in Jerusalem gewoon. Die Benjaminiete kon hulle nie verdryf nie. Hulle woon tot vandag toe nog steeds saam met die Benjaminiete in Jerusalem.

22. Die mense van Josef het teen Bet-El opgeruk. Die Here was by hulle.

23. Hulle het mense uitgestuur om Bet-El te gaan verken. Bet-El se naam was vroeër Lus.

24. Die verkenners het ’n man uit die stad sien kom. Hulle sê toe vir hom: “Wys ons waar ons in die stad kan inkom. Ons sal jou goed beloon.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 1