Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 5:7-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Hulle moet hulle oortreding bely. Hulle moet die persoon vergoed vir wat hulle aan hom gedoen het en twintig persent bysit wanneer hulle hom vergoed.

8. Indien die benadeelde persoon reeds dood is en daar is nie ander familie vir wie dit gegee kan word nie, behoort dit aan die Here. Dit moet vir die priester gegee word saam met ’n ram wat geslag kan word sodat die oortreder se sonde vergewe kan word.

9. Alles wat die Israeliete as ’n offer vir God na die priester toe bring, sal aan die priester behoort.

10. Elke ding wat iemand vir God bring, is sy geskenk aan God. Die priester mag dit egter ná die tyd vir homself hou.”

11. Die Here het vir Moses gesê:

12. “Sê vir die Israeliete: Dit kan gebeur dat ’n man se vrou begin rondloop en ontrou is aan hom.

13. ’n Ander man kan by haar slaap en met haar gemeenskap hê sonder dat haar man dit weet, of sonder dat sy uitgevang word omdat daar geen getuie was nie.

14. Hy kan vermoedens begin kry en agterdogtig begin raak of sy skuldig is of nie.

15. In hierdie geval moet die man sy vrou na die priester toe bring saam met ’n offer van een en ’n half kilogram garsmeel om namens haar te offer. Daar mag nie olie daaroor uitgegooi word of wierook daaroor gestrooi word nie. Dit is ’n offer om te bepaal of sy skuldig is of nie.

16. “Die priester moet haar dan nader bring en voor die Here laat staan.

17. Hy moet dan van die heilige water in ’n houer vat en dit met stof van die vloer van die tabernakel af meng.

18. Ná die priester die vrou voor die Here laat kom staan het, moet hy haar hare losmaak en die offer in haar hande sit. Hy moet die bitter water in sy hand hou. Die water kan ’n vloek bring oor die een wat skuldig is.

Lees volledige hoofstuk Numeri 5