Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 16:39-50 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

39. Eleasar, die priester, het toe die bronsvuurpanne wat die mans gebruik het toe hulle in die vuur dood is, bymekaargemaak. Hy het daaruit ’n deksel vir die altaar gemaak.

40. Dit sou vir die Israeliete ’n waarskuwing wees dat niemand wat nie uit die nageslag van Aäron kom, sommer mag naderkom om wierook voor die Here te brand nie. Anders sal so ’n persoon soos Korag en sy meelopers word waarteen die Here deur Moses gewaarsku het.

41. Net die volgende dag het die Israeliete weer teenoor Moses en Aäron begin kla. Hulle het gesê: “Julle het die volk van die Here vermoor!”

42. Toe die Israeliete om hulle begin saamdrom, het Moses en Aäron omgedraai na die tabernakel toe. Die wolk het oor die tabernakel kom hang. Die magtige teenwoordigheid van die Here het verskyn.

43. Moses en Aäron het toe by die ingang van die tabernakel gaan staan.

44. Die Here het vir Moses gesê:

45. “Staan weg van hierdie mense. Ek wil hulle in ’n oogwink vernietig.” Moses het op die grond neergeval.

46. Hy het vir Aäron geskreeu: “Vat gou ’n vuurpan en sit vuur daarop van die altaar af. Strooi wierook daaroor en beweeg vinnig tussen die mense in. Doen versoening vir hulle. Die Here se woede het onder hulle losgebreek. Die plaag het al klaar begin.”

47. Aäron het gemaak soos Moses vir hom gesê het. Hy het tussen die mense in gehardloop. Die plaag het toe reeds onder hulle losgebreek. Aäron het egter die wierook laat brand en versoening begin doen vir die volk.

48. Hy het tussen dié wat reeds dood was en dié wat nog gelewe het, gaan staan. Die plaag het toe opgehou.

49. In die plaag is daar egter 14 700 mense dood. Dit is nou bo en behalwe dié wat in die Koraggebeure dood is.

50. Toe die plaag ophou, het Aäron teruggegaan na Moses by die ingang van die tabernakel.

Lees volledige hoofstuk Numeri 16