Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 9:23-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. U het hulle kinders so baie gemaak soos die sterre in die hemel.U het hulle gebring in die landwat U gesê hethulle voorouers moet in besit neem.

24. Hulle het die land ingegaan en dit in besit geneem. U het die mense van die land aan hulle onderwerp. Selfs die konings en die Kanaäniete wat in die land gebly het, was magteloos!U volk kon met hulle doen net wat hulle wou.

25. Ons voorouers het versterkte stede ingeneem en vrugbare grond ingepalm. Hulle het ook huise vol kosbaarhede oorgeneem.Die putte was klaar gegrawe, die wingerde, olyfbome en vrugteboorde was volop. Hulle het geëet, en vet geword,en die voorspoed geniet wat U gegee het.

26. “Ten spyte hiervan was hulle ongehoorsaam en opstandig teen U.Hulle het u wet verwerp. U profete het hulle probeer oortuig om na U toe terug te keer.Maar hulle het hulle doodgemaak en godslasterlike dinge gedoen.

27. Daarom het U hulle oorgegee aan hulle vyande wat die lewe vir hulle moeilik gemaak het. Toe dit met hulle swaar gaan, het hulle by U om hulp geroep. U het hulle gehoor uit die hemel.In u groot goedheid het U mense gestuur om hulle te verlos uit die mag van hulle vyande.

28. Maar sodra dit goed gaan, begin u volk weer sondig. U het toegelaat dat hulle vyande hulle weer oorwin. Elke keer as u volk hulp vra, het U maar weer gehoor uit die hemel. U het hulle keer op keer vrygemaakomdat U so baie vir hulle omgee.

29. U het hulle gewaarsku om u wet te gehoorsaam, maar hulle was hoogmoedig en wou nie u wette gehoorsaam nie. Mense wat u voorskrifte gehoorsaam, ontdek wat die lewe werklik is.Maar u voorskrifte het hulle oortree. Hulle het die rug op U gedraai en geweier om na U te luister.

30. U was vir baie jare geduldig met hulle.U het gereeld deur u Gees profete gestuur om hulle te waarsku, maar hulle wou nie luister nie! Daarom het U hulle weer oorgelewer aan die heidense inwoners van die land.

31. Maar omdat U meegevoelmet hulle het, het U hulle nie heeltemal uitgeroei of verwerp nie. U is ’n God wat liefdevol is en baie genade het!

32. “U is ons God, U is groot en magtig!U is die ongelooflike God. U hou die verbond en is getrou in u liefde. Moet tog nie al ons swaarkry geringskat nie. Ons en ons konings, ons leiers, priesters, profete, ons voorouers en die hele volk het gely vanaf die tyd van die Assiriese konings tot vandag toe.

33. Elke keer as U ons straf, was dit regverdig.U was reg,ons het verkeerd gedoen.

34. Ons konings en leiers, priesters en voorouers was ongehoorsaam aan u wet. Hulle het hulle nie gesteur aan u bevele en u waarskuwings nie.

35. Selfs in die tyd toe hulle eie konings oor hulle regeer het en U hulle baie voorspoedig gemaak het, het hulle U nie gedien nie. Al het U vir hulle ’n groot, vrugbare land gegee, het hulle nog steeds aangehou om verkeerde dinge te doen.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 9