Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 3:4-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Meremot, seun van Urija en kleinseun van Kos, het die volgende deel van die muur herstel. Langs hom het Mesullam, seun van Berekja en kleinseun van Mesesabel, gewerk, en langs hóm Sadok seun van Baäna.

5. Langs hulle het die mense van Tekoa gewerk, maar hulle leiers het geweier om vir hulle Here te werk.

6. Jojada seun van Paseag en Mesullam seun van Besodja het op hulle beurt weer die Ou Stadspoort herbou. Hulle het al die balke ingesit, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit.

7. Langs hulle het Melatja van Gibeon en Jadon van Meronot herstelwerk gedoen. So ook die mense van Gibeon en Mispa waar die hoofkwartier van die goewerneur van die provinsie wes van die Eufraatrivier gesetel was.

8. Ussiël seun van Garhaja, ’n goudsmid, het aan die volgende deel van die muur gewerk, gevolg deur Gananja, ’n parfuumvervaardiger. Hulle het ’n deel van die muur om Jerusalem gebou tot so ver as die gedeelte bekend as die Breë Muur.

9. Die volgende deel van die muur is deur Refaja seun van Gur herstel. Hy was die hoof van die helfte van die Jerusalemdistrik.

10. Jedaja seun van Garumaf het die volgende gedeelte van die muur wat reg langs sy huis was, reggemaak. Langs hom het Gattus seun van Gasabneja gewerk.

11. Op hulle beurt het Malkija seun van Garim en ook Gassub seun van Pagat-Moab langs hulle gewerk. Hulle het die Bakoondtoring asook ’n verdere gedeelte van die muur herstel.

12. Sallum seun van Loges het saam met sy dogters die volgende gedeelte van die muur herstel. Sallum was die hoof van die ander helfte van die Jerusalemdistrik.

13. Ganun en die inwoners van Sanoag het die Dalpoort herstel. Hulle het dit herbou, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit. Hulle het ook die 450 meter lange muur tot by die Mispoort herstel.

14. Milkija seun van Rekab het die Mispoort herstel. Hy was die hoof van die Bet-Keremdistrik. Nadat hy die poort herstel het, het hy die deure gehang en die slotte en grendels aangesit.

15. Sallum seun van Kol-Gose was die hoof van die Mispadistrik. Hy het aan die Fonteinpoort gewerk. Hy het dit herbou, die dak opgesit, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit. Daarna het hy die muur van die Siloampoel naby die koning se tuin herstel. Hy het die muur herbou tot by die trappe wat van die stad van Dawid af kom.

16. Langs hom het Nehemia seun van Asbuk gewerk. Hy was die hoof van die helfte van die Bet-Surdistrik. Hy het aan die muur gewerk tot oorkant die koningsbegraafplaas en tot by die opgaardam en die soldate-kwartiere.

17. ’n Groep Leviete onder die toesig van Regum seun van Bani was die volgende werkgroep. Langs hulle het Gasabja, die hoof van die helfte van die Keiladistrik, gewerk. Hy het namens sy distrik oor die herstel van die muur toesig gehou.

18. Hulle familie was die volgende groep wat gewerk het. Hulle het onder leiding van Binnuï seun van Genadad, hoof van die res van die Keiladistrik, gewerk.

19. Hulle is gevolg deur Eser seun van Jesua wat die hoof van die Mispagebied was. Hy het aan ’n gedeelte van die muur wat ’n hoek vorm, gewerk. Dit was reg oorkant die wapenkamer.

20. Barug seun van Sabbai het aan die aangrensende deel van die muur gewerk. Die deel van die muur het vanaf die versterkte hoekgedeelte tot by die deur van die huis van die hoëpriester Eljasib gestrek.

21. Meremot seun van Urija, kleinseun van Kos, het verder aan die muur gewerk wat gestrek het vanaf die deur van die huis van Eljasib tot aan die einde van die huis.

22. ’n Volgende stuk van die muur is deur die priesters van die omgewing herstel.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 3