Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 25:23-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. “Onthou dat die land nooit op ’n permanente basis verkoop mag word nie, want eintlik behoort die land aan My. Julle is eintlik net vreemdelinge en huurders wat by My bly.”

24. “Met elke grondtransaksie moet dit gestipuleer word dat die grond weer te eniger tyd teruggekoop mag word.

25. As enige van julle Israelitiese familielede bankrot speel en so gedwing word om van die geërfde grond te verkoop, mag ’n naby familielid – ’n losser – die grond vir hom terugkoop.

26. As daar niemand van sy familie is om die grond terug te koop nie, maar die persoon wat dit verkoop het, slaag daarin om genoeg geld in die hande te kry om die grond terug te koop,

27. het die persoon die reg om die grond terug te koop van die persoon wat dit aanvanklik gekoop het. Die prys van die grond sal baseer word op die aantal jare tot die volgende Jubeljaar. Nadat die grond teruggekoop is, mag die oorspronklike eienaar terugkeer na sy grond toe.

28. As die oorspronklike eienaar egter nie kan bekostig om die grond terug te koop nie, sal dit tot die volgende Jubeljaar aan die nuwe eienaar behoort. In die Jubeljaar sal die grond dan teruggegee word aan die oorspronklike eienaar.

29. “As iemand ’n huis binne ’n ommuurde stad verkoop, het hy nog vir ’n jaar lank die reg om dit terug te koop. Gedurende dié tyd het die verkoper die reg om dit terug te koop.

30. As die huis nie binne ’n jaar teruggekoop word nie, word die huis binne ’n ommuurde stad die permanente eiendom van die koper. Dit word dan nie in die Jubeljaar aan die oorspronklike eienaar terugbesorg nie.

31. ’n Huis in ’n dorp – dit beteken ’n nedersetting sonder versterkte mure – word op dieselfde manier as eiendom in die oop veld beskou. So ’n huis mag te eniger tyd teruggekoop word en moet dan aan die oorspronklike eienaar terugbesorg word in die Jubeljaar.

32. “Die Leviete behou altyd die reg om ’n huis wat hulle in die stad verkoop het, weer terug te koop.

33. Enige eiendom wat deur die Leviete teruggekoop kan word – dit wil sê alle huise in Levitiese stede – moet aan hulle terugbesorg word in die Jubeljaar. Die Levitiese stede is tog die enigste eiendom wat hulle in Israel mag besit.

34. Die strook weiveld om elk van die Levitiese stede mag nooit verkoop word nie. Dit is hulle permanente eiendom.”

35. “Wanneer enigeen van julle mede-Israeliete in armoede verval en van jou afhanklik raak, sorg vir hulle soos wat julle vir ’n vreemdeling sou sorg en laat hulle toe om by julle te bly.

36. Moenie wins uit hom maak of rente hef op die geld wat julle vir hulle leen nie. Wys julle vrees vir God deur hulle by julle te laat bly as julle bloedverwante.

37. Onthou, julle mag nie julle bloedverwante rente vra op enigiets wat julle aan hulle leen nie, of dit nou kos of geld is.

38. Ek, die Here, is julle God wat julle uit Egipte gebring het om aan julle hierdie land te gee en om julle God te wees.

39. “As enigeen van julle mede-Israeliete bankrot speel en hulleself as slawe aan julle moet verkoop, moet hulle nie as slawe behandel nie.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 25