Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 8:15-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. “Josua en die hele Israel het omgevlieg en op die vlug geslaan in die rigting van die woestyn.

16. Almal in die stad is opgeroep om hulle te agtervolg. Hulle is agter Josua aan en is so van die stad af weggelok.

17. Daar was nie ’n man in Ai of Bet-El oor wat nie agter die Israeliete aan was nie. Hulle het egter die stad net so oop gelos toe hulle agter Israel aan is.

18. Toe sê die Here vir Josua: “Steek die spies in jou hand na Ai toe uit. Ek gee die stad in jou mag oor.” Josua het die spies in sy hand na Ai toe uitgesteek.

19. Toe hy sy hand uitsteek, was dit die teken. Die manskappe wat weggekruip het, het vinnig uit hulle skuilplekke opgespring en die stad bestorm. Hulle het die stad ingestorm en dit verower. Hulle het dit dadelik aan die brand gesteek.

20. Toe die mans van Ai omkyk, sien hulle hoe die rook uit die stad in die lug optrek. Hulle kon absoluut nêrens heen vlug nie. Die mense wat in die rigting van die woestyn gevlug het, het nou teen hulle agtervolgers omgedraai.

21. Josua en al die Israeliete het gesien dat die hinderlaag gewerk het. Toe die rook uit die stad begin opstyg, het hulle omgedraai en die mans van Ai aangeval.

22. Die manskappe van Israel het uit die stad gekom en hulle van agter aangeval. Die mense van Ai het nou Israeliete voor en agter hulle gehad. Die Israeliete het hulle neergevel tot daar nie een oor was wat kon oorleef of vrykom nie.

23. Die Israeliete het die koning van Ai lewendig gevang en hom na Josua toe gevat.

24. Nadat die Israeliete al die inwoners van Ai wat hulle op die oop stuk veld en die woestyn agternagesit het, doodgemaak het, is hulle terug na Ai toe en het al die mense in die stad doodgemaak.

25. Die mense van Ai wat daardie dag dood is, sowel mans as vroue, was 12 000.

Lees volledige hoofstuk Josua 8