Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 7:19-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Josua het toe vir Akan gesê: “My seun, erken die almag van die Here die God van Israel. Bely jou skuld voor Hom. Sê vir my wat jy gedoen het. Moenie iets vir my wegsteek nie.”

20. Toe sê Akan vir Josua: “Dit is waar. Ek het teen die Here die God van Israel oortree. Dit is wat ek gedoen het:

21. Ek het tussen die buit pragtige klere uit Sinar gesien en ook silwer van ongeveer twee kilogram en ’n stuk goud van meer as ’n halwe kilogram. Ek het dit begeer en toe vir myself gevat. Dit is in die grond in my tent weggesteek. Die silwer lê onder.”

22. Josua het toe mense gestuur. Hulle het na die tent toe gehardloop. Daar kry hulle toe alles weggesteek in die tent, met die silwer heel onder.

23. Hulle het dit uit die tent uitgehaal en dit vir Josua en al die Israeliete gebring. Hulle het dit daar voor die Here neergesit.

24. Josua en al die Israeliete het Akan die seun van Serag gevat en ook die silwer, die klere en die stuk goud, Akan se seuns en dogters, sy beeste, sy donkies, sy kleinvee, sy tent en alles wat aan hom behoort. Hulle is daarmee na die laagte van Akor toe.

25. Josua het met hom geraas: “Hoekom het jy onheil oor ons gebring? Die Here bring vandag onheil oor jou!” Die hele Israel het toe vir Akan en sy mense met klippe doodgegooi. Hulle het al sy besittings met vuur verbrand.

26. Hulle het hom onder ’n groot hoop klippe toegepak. Dit is vandag nog daar. Die Here se woede het toe afgekoel. Daardie plek se naam is tot vandag toe nog die Laagte van Akor.

Lees volledige hoofstuk Josua 7