Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 7:14-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. “‘Julle moet môre-oggend volgens julle stamme kom aanmeld. Die Here sal die skuldige stam uitwys. Daardie stam wat deur die Here aangewys word, moet met sy familie naderkom sodat die Here die skuldige familie onder hulle kan uitwys. Hulle moet weer volgens hulle gesinne een vir een naderkom dat die Here die gesin kan aanwys.

15. Die man wat met die bangoed in sy besit gevang word, moet met vuur verbrand word, saam met al sy mense. Hy het die ooreenkoms met die Here verbreek. Hy het iets skandeliks in Israel aangevang.’”

16. Josua het die volgende oggend vroeg opgestaan. Hy het Israel volgens sy stamme voor die Here laat kom. Die stam van Juda is aangewys.

17. Hy het die families uit Juda laat naderstaan en die Seragfamilie is uitgewys. Hy het toe die Seragfamilie laat naderkom. Sabdi is uitgewys.

18. Toe hy die gesinne van Sabdi een vir een laat naderkom, is Akan, die seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag, uit die stam van Juda, uitgewys.

19. Josua het toe vir Akan gesê: “My seun, erken die almag van die Here die God van Israel. Bely jou skuld voor Hom. Sê vir my wat jy gedoen het. Moenie iets vir my wegsteek nie.”

20. Toe sê Akan vir Josua: “Dit is waar. Ek het teen die Here die God van Israel oortree. Dit is wat ek gedoen het:

21. Ek het tussen die buit pragtige klere uit Sinar gesien en ook silwer van ongeveer twee kilogram en ’n stuk goud van meer as ’n halwe kilogram. Ek het dit begeer en toe vir myself gevat. Dit is in die grond in my tent weggesteek. Die silwer lê onder.”

22. Josua het toe mense gestuur. Hulle het na die tent toe gehardloop. Daar kry hulle toe alles weggesteek in die tent, met die silwer heel onder.

23. Hulle het dit uit die tent uitgehaal en dit vir Josua en al die Israeliete gebring. Hulle het dit daar voor die Here neergesit.

Lees volledige hoofstuk Josua 7