Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 6:9-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Terwyl die priesters heeltyd op die ramshorings geblaas het, het die soldate voor hulle uit marsjeer. Die res van die volk het agter die ark gevolg.

10. Josua het die volk gewaarsku: “Moenie skreeu nie. Moenie ’n geluid maak nie. Daar moenie ’n woord uit julle mond kom voor die dag dat ek vir julle sê: ‘Skreeu!’ nie. Dan moet julle hard begin skreeu.”

11. Hy het die ark van die Here toe een maal om die stad laat gaan. Daarna is hulle terug na hulle kamp toe en het die nag in die kamp gebly.

12. Josua was die volgende môre vroeg op. Die priesters het weer die ark van die Here gedra.

13. Die sewe priesters met die ramshorings het voor die ark van die Here geloop en op die ramshorings geblaas. Die soldate het voor hulle uit marsjeer. Die volk het agter die ark van die Here aangekom. Die priesters het die hele tyd op die ramshorings geblaas.

14. Op die tweede dag het hulle weer een keer om die stad geloop en teruggegaan na hulle kamp toe. So het hulle ses dae lank gemaak.

15. Op die sewende dag het hulle vroeg opgestaan toe dit nog skemer was. Hulle het oudergewoonte om die stad gegaan, maar op hierdie dag sewe keer.

16. Die sewende keer het die priesters die teken op die ramshorings gegee. Josua het vir die volk geskreeu: “Gee die kreet! Die Here gee die stad vir julle!

17. Die stad is ’n banoffer vir die Here. Die stad en alles wat daarin is, moet heeltemal uitgewis word. Die prostituut Ragab en almal wat by haar in die huis is, moet bly lewe. Sy het die verkenners wat ons uitgestuur het, weggesteek.

Lees volledige hoofstuk Josua 6