Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 4:7-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Julle moet dan vir hulle vertel: ‘Die water van die Jordaan is afgesny toe die ark van die verbond van die Here deur die Jordaan gegaan het.’ Hierdie klippe sal die Israeliete altyd daaraan herinner.”

8. Die Israeliete het gemaak soos Josua vir hulle gesê het. Hulle het twaalf klippe vir elkeen van die twaalf stamme uit die middel van die Jordaan uitgedra, soos die Here vir Josua beveel het. Hulle het dit saam met hulle gevat na die plek waar hulle kamp sou opslaan. Hulle het dit daar opmekaargestapel.

9. Josua het ook twaalf klippe in die middel van die Jordaan opmekaar laat stapel, daar waar die priesters wat die ark van die verbond gedra het, gestaan het. Daardie klippe is vandag nog daar.

10. Die priesters wat die ark van die verbond gedra het, het daar in die middel van die Jordaan bly staan totdat al die Here se opdragte wat Moses vir Josua gegee het, afgehandel was. Die volk het haastig deur die rivier getrek.

11. Toe die volk klaar deur was, het die priesters met die ark van die Here deurgetrek. Die volk het vir hulle gestaan en kyk.

12. Die gewapende vegters van die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het aan die voorpunt van die Israeliete eerste deur die rivier getrek, soos Moses bepaal het.

13. Omtrent 40 000 mans gewapen vir oorlog het deur die rivier gegaan voor die ark van die Here uit na die vlakte van Jerigo.

14. Op daardie dag het die Here Josua groot aansien in die oë van al die Israeliete gegee. Hy was sy hele lewe lank net so belangrik vir hulle soos Moses.

15. Die Here het vir Josua gesê:

16. “Sê vir die priesters wat die ark dra dat hulle uit die Jordaanrivier moet uitkom.”

17. Josua het hulle so beveel.

18. Die priesters wat die ark van die verbond van die Here dra, het uit die Jordaan uitgekom. Toe hulle voete die droë grond van die wal raak, het die rivier se waters weer na sy ou plek begin terugvloei. Dit het weer sy walle begin oorstroom.

19. Op die tiende dag van die eerste maand het die volk deur die Jordaan getrek. Hulle het gaan kamp opslaan by Gilgal, oos van Jerigo.

Lees volledige hoofstuk Josua 4