Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 22:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Daarna het Josua die stamme van Ruben en Gad en die halwe Manassestam by hom laat bymekaarkom.

2. Hy het vir hulle gesê: “Julle het pligsgetrou alles nagekom wat Moses, die dienaar van die Here, aan julle opgedra het. Julle het elke opdrag uitgevoer wat ek vir julle gegee het.

3. Al het dit lank geduur, het julle nooit die ander stamme in die steek gelaat nie. Julle het alles gedoen wat die Here julle God julle beveel het.

4. Die Here julle God het soos Hy beloof het, vir julle volksgenote permanente blyplek gegee. Julle kan nou omdraai en teruggaan na julle woonplekke toe, na die grond wat Moses, die dienaar van die Here, vir julle oorkant die Jordaanrivier gegee het.

5. Let baie goed daarop dat julle die gebod en die wet wat Moses, die dienaar van die Here, julle voorgehou het, moet gehoorsaam. Dit beteken dat julle die Here julle God moet liefhê, die koers moet inslaan wat Hy van julle verwag, bedag moet wees op wat Hy wil hê, daaraan vashou en met hart en siel vir Hom lewe.”

6. Josua het hulle seën toegewens en hulle weggestuur. Hulle is toe terug na hulle eie woonplek toe.

7. Moses het vir die een helfte van die Manassestam grond in Basan gegee. Josua het vir die ander helfte van die stam grond wes van die Jordaan saam met die ander stamme gegee. Toe Josua hulle nou terugstuur na hulle woonplekke toe, het hy hulle geseën

8. en vir hulle gesê: “Gaan terug en deel alles wat julle by julle vyande afgeneem het met julle families by die huis. Deel julle rykdom met hulle, julle groot troppe vee, die silwer, goud, koper en yster, en die baie klere wat julle gekry het.”

9. Die Rubeniete en Gadiete en die mans van die halwe Manassestam het die ander Israeliete in Silo in Kanaän agtergelaat. Hulle het teruggegaan na Gilead, na hulle grond wat hulle verower het, soos die Here hulle deur Moses beveel het.

10. Hulle het by Gelilot by die Jordaanrivier gekom. Dit is nog aan Kanaän se kant van die rivier. Daar het hulle langs die Jordaan ’n baie groot en mooi altaar gebou.

11. Toe die ander Israeliete hoor dat die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam die altaar by Gelilot aan hulle kant in Kanaän opgerig het,

12. het hulle by Silo saamgetrek om oorlog teen die twee en ’n half stamme te gaan maak.

13. Die Israeliete het vir Pinehas, die seun van die priester Eleasar, na die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam in Gilead gestuur.

14. Tien leiers wat elkeen hoof was van ’n Israelitiese familiegroep, en die tien ander stamme verteenwoordig het, het Pinehas vergesel.

Lees volledige hoofstuk Josua 22